g.8. Johannes Izak NEL. geb. 21/04/1907

g.8.  Johannes Izak (Izak), geb. 21/04/1907, oorl. 03/07/1968, x Anna Jacoba (Annie) KRUGER, geb. 11/10/1912, oorl. 24/06/2006. 

Johannes Izak was die seun van Abraham Pieter Nel en Hendrina Maria Hendrikse.


Hierdie laatlammetjie van die familie is in 1907 gebore.  Hy was ‘n kort man met ‘n egalige geaardheid.  A.D. Malan het vir Izak en Piet beskryf as dierbare en sagte mense.  Izak was ook ‘n dinamiese man met ‘n sterk selfbeeld en mening.   

Izak is met Anna Jacoba Kruger getroud.  Mias se seun Mias het baie tyd saam met sy ooms deurgebring en het selfs saam met Izak gery wanneer hy by Annie op Samoep anderkant Pofadder gaan kuier het vir ‘n naweek.  Izak en sy bruid het in 'n tent gewoon terwyl hulle huis gebou is.

Izak was lief vir jag en was ‘n baie goeie skut.  Hy en sy broers het die wild na ‘n jagtog sorgvuldig bewerk en biltong en wors gemaak.  Oor die wors se maak was daar redelike meningsverskille.  Ben en Kolie het altyd die grootste meningsverskille gehad.  Izak en Piet het weer die vrede herstel.  Izak en Piet was baie na aan mekaar en hulle het die meeste by mekaar gekuier.

Izak was  baie netjies as persoon, op sy besitings en op sy plaas.  Hy het alles wat hy gehad het met liefde en sorg hanteer en was trots daarop.  Hy het van mense gehou en het graag onthaal.

Van al die broers was Kolie en Izak die grootste platjies.  Hierdie twee broers  het nie gehuiwer om in die regte gees en in die regte omstandighede, ‘n ander ‘n poets te bak nie.  Buiten daarvoor dat Izak graag grappe gemaak het, kon hy ook goed stories vertel, soos A.D. Malan dit stel “ombruikbare stories”.


Op 3 Julie 1968 is Izak dood aan ‘n hartaanval.  Tobie Hanekom, wat pas op die plaas gejag het, het Izak se begrafnis waargeneem.  Hy en Izak was neefs en het ‘n baie sterk band gehad.

EGGSA
Northern Cape, Gordonia district, Augrabies Padrooi 13  Nel cemetery

EGGSA
Northern Cape, Gordonia district, Augrabies Padrooi 13  Nel cemetery