i.1. Gysbertus Johannes VON WIELLIGH, geb. 1952

i.1. Gysbertus Johannes, geb. 1952, Keimoes.

Gysbertus Johannes was die seun van Hendrik Johannes von Wielligh en Hendrika Christina Wilhelmina van der Westhuizen.

Gys se ouers het na sy geboorte steeds in kamer 6 van Keimoes Hotel gewoon. 

Gys saam met sy ma "Klein" Hennie

Gys op ongeveer twee jarige ouderdom

Toe hy ongeveer vier of vyf jaar oud was het die gesin in die woonstel langs die hotel ingetrek.  Gedurende sy grootwordjare was hy nou betrokke by sy van der Westhuizen grootouers en het hy soms by hulle gaan woon wanneer sy ouers per geleentheid moes weggaan.  Hy het baie lekker herrinneringe uit hierdie kuiertjies.

Voor hy skool toe is het sy ouers hom na 'n voorskoolse klassie wat agter Standerd bank was, laat gaan.  Hy is in Sub A na Keimoes Hoërskool toe, waar hy onder andere uit "Sus en Daan" leer lees en resiteer het.  Hy het tot St. 6 by Keimoes Hoërskool skoolgegaan.

Gys saam met sy pa Hennie

Gys het in St 7 na Afrikaans Seuns Hoër (Affies) in Pretoria gegaan.  Hy het aanvanklik by sy pa se suster Anna Bird aan huis gebly, maar is daarna koshuis toe.  Hy was nie gelukkig in die koshuis nie en teen die helfte van die jaar na HT&HS in Upington toe verskuif.  Hy het eers van die huis af skoolgegaan en saam met sy ma se broer, Hansie van der Westhuizen, Upington toe gependel.  Hy is daarna koshuis toe.

Gys as jong seun

Toe die rugbyseisoen begin, wou hy aan die Handels en Tegniese kant van die skool deelneem en het hy daar klasse begin bywoon.  Hy het vir die skool se eerste span gespeel en het ook Oranje Unie rugby gekry.

In matriek het hy deurgekom, maar het nie universiteitsvrystelling gehad nie.  Sy ouers het toe besluit dat hy terug skool toe moet gaan en toe het hy Afrikaans, Engels en Wiskunde in sy tweede jaar in matriek gedoen.

Na skool is hy weg vir sy weermagopleiding van 9 maande.  Hy was deel van die kommando's.  Hierna is hy Stellenbosch toe om 'n kursus in Liggaamsoefening aan die Universiteit van Stellenbosch te doen.  Hy het in Dagbreek koshuis gebly vir die jaar.  Hy het egter besluit dat 'n loopbaan as Bou-tekenaar beter vir hom sal wees en is hierna na die Kaapse technikon waar hy in 'n hostel in Rondebosch gewoon het.

Na sy studies het hy in Keimoes Hotel begin werk. Hy het geleidelik die bestuur van die hotel by sy pa oorgeneem.  Hy het in hierdie tyd vir Keimoes, en daarna vir Upington dorp rugby begin speel.  Hy het Noordwes-Kaap rugby gekry.  Dit was juis by 'n dans wat na 'n wedstryd teen Boland gespeel is, wat hy sy toekomstige bruid ontmoet het.



Gys het 'n grasdakhuis op die erf oorkant die hotel laat bou. Hierdie praghuis het egter later jare afgebrand.Die Gemsbok.  Vrydag 7 September 1984