h.3. Gerrit Stephanus (Tinkie), geb. 07/02/1924, ged. 24/02/1924, Kenhardt, oorl. 18/08/2002, begr. Augrabies x 14/12/1956, Kakamas met Louisa Helena Johanna (Wiesa) VAN WYK, geb. 17/07/1935 van Kakamas, oorl. 2023.
Gerrit Stephanus was die seun van Gerrit Stephanus Nel en Magdalena Maria Strauss.In 1942 het Tinkie klaargemaak met skool en was hy al op die plaas om te boer.
EGGSA
Augrabies cemetery
Gemsbok
01 November 2024 ·
Die Gemsbok se sukses rus op die skouers
van die strydrosse van ouds en ons het dit goed gedink om ‘n oomblik van onthou
en dankie aan ‘n paar van die oud-kollegas van die Gemsbokkers te deel.
Ons onthou ons Boesmanland se blom
Een
van die Gemsbok se ikone, Wiesa Nel, is in 2023 op die ouderdom van 87 jaar
oorlede.
Die
verklarende woordeboek verwys na ‘n ikoon as iemand wat bekend, geliefd of
suksesvol was, vanweë merkwaardige kwaliteite in ‘n persoon se beroep of
persoonlike lewe.
“En merkwaardig was Wiesa Nel beslis.
Mense wat met Wiesa te doen gehad het, hetsy as bemarker by die Gemsbok of op
persoonlike vlak, sal haar altyd onthou as ‘n vrou wat besonders elegant
aangetrek het en vir wie ‘n mens altyd deur ‘n ring kon trek.
Dit is met dieselfde presisie wat sy gewerk
het. Alles moet reg wees. Wanneer sy ‘n advertensie van ‘n kliënt vir die
ontwerper op kantoor kom ingee het, het sy net die beste verwag. Maak nie saak
hoe groot of hoe klein die advertensie was nie,” skryf Elsa Jones, redakteur
van die Gemsbok.
Wiesa het na almal geluister, al was sy
hoe besig. Aan al haar kliënte het sy dieselfde aandag gegee.
Partykeer het dit maar rof gegaan by die
kantoor, veral voor saktyd of bylaag tyd.
Wiesa kon altyd nog ‘n haas uit ‘n hoed
haal, maak nie saak of daar nog net 10 minute voor saktyd is nie. As daar dalk
nog ‘n klein advertensie spasie oor was, sou Wiesa dit vinnig vul.
“Wanneer Wiesa eers vasbeslote was om ‘n
seker persentasie belading in die koerant of bylaag te behaal - of as ‘n kliënt
op nommer 99 nog ‘n advertensie wou plaas, het Wiesa nie nee gesê nie. Dit kon
maklik veroorsaak dat redaksie ‘n paar bladsye, wat natuurlik lankal klaar is,
moes oordoen om die kliënt te akkommodeer. Dit is dan dat ek en Wiesa heerlik
kon koppe stamp. Hard en duidelik- maar wanneer die koerant gesak het en dinge
raak weer rustig, is alles vergete en kon sy jou ure lank met staaltjies en
grappies uit haar geliefde Boesmanland of die vroeër jare van die Gemsbok
vermaak. Ek het vir haar respek gehad. Wiesa se ambisie, haar werksetiek en
haar deursettingsvermoë was ‘n aanwins vir die Gemsbok en saam met haar
tydgenoot, wyle Douglas Jones (vroeër die redakteur van die Gembsok), het sy
gehelp om die Gemsbok se fondasie langs die Grootrivier en oor die hele
provinsie, onverskuifbaar, vas te lê. Niemand het so hard gewerk soos sy nie en
sy het altyd die Gemsbok se belange op haar hart gedra. ” skryf Marina
Scheepers, een van die joernaliste wat jare lank saam met Wiesa gewerk het.
Wiesa was sedert die 70’s deel van die
Gemsbok totdat sy so agt jaar gelede afgetree het, vanweë haar gesondheid.
Wiesa was ‘n top bemarker wat regoor die
land vir haarself naam gemaak het. Sy is verskeie kere met aanprysingstrofeë
vir die mees suksesvolle advertensieverteenwoordiger in die land bekroon.
Sy het al die dorpe in die Gemsbok se
verspreidingsgebied besoek en nie net sakekennisse regoor ons streek gemaak
nie, maar ook jarelange vriende.
Wiesa was baie betrokke in die gemeenskap.
Sy het aan verskeie verenigings behoort en het ook gereeld opgetree as ‘n
beoordelaar by kompetisies. Sy was ook die dryfveer agter die Gemsbok se
Skoukoningin-kompetisies en het baie moeite gedoen om suksesvolle
kroningsfunksies met die beste gaskunstenaars te reël.
Annekie Heyns, ‘n vorige verslaggewer en
bemarker by die Gemsbok onthou Wiesa so:
“Haai kyk, dis Wiesa Nel. Dis regtig sy!”
Ek was saam met Wiesa in een van Kakamas
se besighede. Sy het met die bestuurder gestaan en gesels, onbewus van die
“Charlize Theron” beroering wat sy onder die verkoopsdames veroorsaak.
Sy was hierdie “force of nature” op die
mees elegante manier, nie ‘n haar uit sy plek nie. Haar humorsin, haar
Boesmanland stories, haar lojaliteit aan haar familie, haar vriende, haar
wêreld en die Gemsbok, sal onthou word.
Wiesa sal nog lank onthou word met stories
en staaltjies, soos dit met ’n ikoon en ’n groot persoonlikheid gaan. Net soos
Nelson Mandela, met wie sy ’n verjaarsdag deel.
Wiesa is ‘n kind van Kakamas wat jare in die
Boesmanland gewoon het. Na skool het sy ‘n draai op Stellenbosch gaan maak en
toe op Kakamas kom werk, voordat sy met Tinkie Nel van Schuitdrif-Wes getroud
is.
Nadat haar kinders - Riëtte, die tweeling
Gerrit en Casper en Johan skool toe gegaan het, het sy afgelos by die
skoolraadsekretaris as sekretaresse. Sy het toe in die 70’s begin werk as
korrespondent vir die Gemsbok.
So het ek Wiesa in 1986 leer ken. Sy het
net af en toe ingekom om die nuus te bring. In daardie tyd het sy ook begin om
advertensies te verkoop. Sy het eers net drie dae ‘n week gewerk en later, na
1991, is sy voltyds as bemarker by die Gemsbok deur mnr Pieter Theron
aangestel.
Wiesa het elke Maandag ingery van Schuidtdrift af en elke Vrydagmiddag
terug plaas toe. So het die Gemsbok se personeel ook vir oom Tinkie en al haar
kinders leer ken. Na oom Tinkie se dood, het sy vir haar ‘n woonstel in
Upington gekoop en permanent hier gewoon en op die plaas gaan kuier.
Volgens Gerrit, was sy ma baie streng,
veral toe hulle nog op skool was. Nou is hy baie dankbaar vir dit wat sy vir hulle
geleer het - om hard te werk, altyd jou beste te gee en om met almal oor die
weg te kom. Wiesa was sterk in haar geloof. Sy was ‘n mense mens, het almal oor
dieselfde kam geskeer en op niemand neergesien nie.
Hy sê sy ma was ‘n uithaler kok, sy was baie
lief om te onthaal. Hyself is ‘n uithaler kok en het baie by sy ma geleer. “Sy
het al ons seuns geleer om behoorlik kos te maak.” Gerrit noem dat sy baie
kunstig was en juwele gemaak het. Sy het selfs gehelp om hul huis op te knap,
self geverf, muurpapier geplak en teëlwerk gedoen. Hy sê sy het altyd netjies
en deftig aangetrek en hy kan nie onthou dat hy haar ooit sonder grimering
gesien het nie. So onthou baie van haar kliënte haar ook, baie hardwerkend en
jy kon haar deur ‘n ring trek. Haar
woonstelle op Upington was ook keurig gemeubeleerd, wat getuig het van haar
goeie smaak. Hy sal haar onthou as die
mooi vrou wat vir hulle ‘n voorbeeld was.
Wiesa se skoondogter, Suzette wat met wyle
Casper Nel getroud was, het vir jare saam met Wiesa as bemarker by die Gemsbok
gewerk. Sy sê dit was die mees
interessantste mens wie sy ooit ontmoet het. “Sy was my ma, my kollega en my
vriendin. Ek het by haar geleer om te bemark, sy was ‘n uitstekende bemarker.
Wiesa se werksetiek het vir haar uitgestaan en sy was ‘n dinamiese bemarker.”
Haar kleindogter, Heloïse skryf die volgende: “Wat ‘n voorreg om agt jaar saam met Wiesa te kon werk. Ek onthou hierdie ouma van my as ‘n merkwaardige vrou met klas en styl. Wiesa was ‘n harde werker met hope uithou vermoë en iemand wat na aan haar Skepper gelewe het. Sy was ‘n inspirasie en rolmodel vir baie mense. Wiesa was liefdevol, nederig en sagmoedig en het altyd tyd vir ‘n grappie gehad. Sy was ‘n legende in haar eie tyd. “My wêreld is armer sonder haar daarin”.