Geskiedkundige agtergrond

Die Nederlandse vestigingsgeskiedenis in Suid Afrika begin in Maart 1647 met die stranding van die Nederlandse skip die Nieuwe Haarlem.  Die skipbreukelinge het ‘n klein fort genaamd "Sand Fort of the Cape of Good Hope" gebou. Hier het hulle vir byna ‘n jaar aan die Kaap gewoon.  Hulle is uiteindelik gered deur ‘n vloot van 12 skepe onder die bevel van W.G. de Jong.  Jan van Riebeeck was op een van hierdie skepe.  (Ramerini, Marco: The Dutch in South Africa, 1652-1795 1802-1806, English text revision by Dietrich Köster).

Na hulle terugkeer na Holland het ‘n klompie van die skipbreukelinge die Oos Indiese Kompanjie probeer oorreed om ‘n handelssentrum aan die Kaap te begin. In 1652 het ‘n Nederlandse ekspedisie van 90 Calviniste setlaars onder die bevel van Jan Van Riebeeck die eerste permanente vestiging naby die Kaap de Goede Hoop gestig. Hulle arriveer in Tafelbaai op 6 April 1652 met vyf skepe:  die "Reijger", die "Oliphant", die "Goede Hoop", die "Walvisch" en die "Drommedaris".  (Ramerini, Marco: The Dutch in South Africa, 1652-1795 1802-1806, English text revision by Dietrich Köster).

Landing van van Riebeeck
  
Van Riebeeck se fort

‘n Vierkantige houtfort met vier bastions is gou gebou op die linkerkantste bank van die Soutrivier en later bou hulle ook twee reduite (redoubts) naby die kus.  Hulle is genoem "Kyckuit" en "Duinhoop".  (Ramerini, Marco: The Dutch in South Africa, 1652-1795 1802-1806, English text revision by Dietrich Köster).  Die Tweede See-oorlog van 1666 tussen Engeland en Nederland, het tot gevolg gehad dat daar ‘n groot toename van amptenare en soldate aan die Kaap was.  Dit het die behoefte laat ontstaan vir die bou van die Kasteel as militêre verdediging. (Turton, Anthony Richard:  How many bones must you bury before you can call yourself an African? 2009).  Op 2 Januarie 1666 was die eerste steen van die Kasteel de Goede Hoop wat die oorspronklike fort vervang het, gelê.  Hierdie steengebou was ‘n baie groot pentagonale fort met ‘n grag en bastions op elke hoek. Die bastions was: "Nassau", "Leerdam", "Oranje", "Catzenellenbogen" en "Buuren" genoem. The Dutch in South Africa, 1652-1795 1802-1806, deur Marco Ramerini. English text revision by Dietrich Köster.

Toe Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het, het hy die opdrag gehad om ‘n halfwegstasie vir die Nederlandse Oos-Indiese Kompanje (V.O.C.) te stig, wat voorrade vir verbygaande skepe moes voorsien.  Aanvanklik wou die V.O.C. nie ‘n permanente kolonie daar stig nie.

Aangesien die koringopbrengs aan die Kaap onvoldoende was om in die skepe se behoeftes te voorsien, moes die Bewindhebbers in 1655 vir  Van Riebeeck toestemming gee, dat van die amptenare uit diens kan tree en toegelaat word om koring te kweek by Rondebosch, wat ‘n geskikter omgewing vir koringprodusering was, maar wat ‘n ent van die Fort af geleë was.  Hulle sou vir eie wins werk en beter as die betaalde amptenare boer.

Vryburgerskap is aanvanklik net aan voornemende boere verleen. Die eerste nege Vryburgers het op 21 Februarie 1657 hul vry- en grondbriewe vir hul plase aan die Liesbeekrivier, wat toe die amptelike grens geword het, ontvang.
  
Die kaart toon die eerste toegekende grond aan die Vryburgers aan die Liesbeek Vallei.  Die lyn M merk die limiet van die area “wat mees geskik is” vir Kaapse burgers om te boer.  Dit het die eerste grens van die kolonie gevorm.  (Worden, Nigel;  van Heyningen, Elizabeth;  Bigford Smith, Vivian:  Cape Town the making of a city.)


Kaap 1658.  Gedeelte van Wouter Schouten se tekening

Die Vryburgers was aanvanklik in twee groepe verdeel: die sogenaamde Harmans-kolonie onder leiding van die Duitser, Harman Remajenne van Keulen, en die Stevens-kolonie onder leiding van Steven Jansz (Botma). Later het nog vyf boere vryburgerskap verkry.  (Myfundi. Die Vryburgers).



Teen 1658 kon drie groepe Vryburgers langs die Liesbeek onderskei word: Coornhoop Colonie (waaronder Hendrick Boom en sy vrou Anna), Hollantse Thuijn Colonie (waaronder Botma) en Groenevelt Colonie (waaronder Remajenne). Die Vryburgers was hoofsaaklik Nederlanders, maar daar was ook Duitsers. 'n Noorweër en waarskynlik 'n Brit. Die plasies langs die Liesbeek (vroeër die Amstel genoem) geleë was ongeveer 11,5 ha elk.  (Myfundi. Die Vryburgers).



Rijkloff van Goens, die besoekende kommandeur, het die huurvoorwaardes van die Vryburgers vasgestel.  Hulle was vrygestel van belasting vir die eerste twaalf jaar; ruilhandel met die inheemse bevolking is toegelaat, maar die Vryburgers se kooppryse mag nie dié van die VOC oorskry het nie; die VOC se alleenreg op die verkoop van groente, tabak en drank is deur wetgewing beveilig; noodsaaklikhede soos landbougereedskap, gewere en ammunisie is aanvanklik teen kosprys en op krediet aan die Vryburgers verskaf.  (Myfundi. Die Vryburgers).  Om hulle teen rooftogte te beskerm, is daar in 1657 op die westelike wal van die Liesbeek begin met die bou van 'n fort wat Fort Coornhoop genoem is.  Botma is in 1657 deur Van Goens tot burgerraad benoem. (Myfundi. Die Vryburgers).

In Mei 1658 het ‘n skip met 228 slaves vanaf Guinea aangekom in Tafelbaai. Hulle is op 09/05/1658 verkoop aan die Vryburgers vir 100 Guilders ‘n slaaf.  Die meeste van hierdie slawe het egter ontsnap, wat tot ‘n finansiële verlies  van 2 000 Guilders, wat die equivalent van 8 000 beeste was, vir die Vryburgers gelei het.  (Turton, Anthony Richard:  How many bones must you bury before you can call yourself an African? 2009).

Teen 1659 was 84 morg grond al bewerk.  In 1662 was daar reeds 60 vryburgers, waarvan die meeste koringboere was.  Die van der Westhuizen familie was van die eerste families aan die Kaap.  Hulle het voor die jaar 1662 aan die Kaap gekom.

Die bevolking aan die Kaap het groter geword toe eiendom aan privaat burgers toegeken word, want dit het die immigrasie van wit vroue en knegte na die land aangemoedig.  Teen 1679 was daar 87 boere, 55 vroue, 117 kinders, 30 Europese knegte en 191 slawe woonagtig in die Kaapse Skiereiland.  Die nedersetting het toe uit ‘n aantal plase aan die voet van Tafelberg, die kompanjiesposte by Saldanhabaai, Hottentots-Holland en Tygerberg en ‘n paar verspreide opstalle van boere wat in die binneland op ‘n tydelike basis gevestig was, bestaan.  Simon van der Stel, wat in 1679 as kommandeur van die Kaapse nedersetting aangekom het, het op ‘n reis om die Kompanjie se buitepos te Hottentots-Holland te inspekteer, met ‘n omweg na die Kaap teruggekeer.  Hy het aan die Eersterivier ‘n area aangetref wat ‘n besondere indruk op hom gemaak het.  Met sy terugkoms in Kaapstad het hy bekend gemaak dat boere in die nuutgevonde streek, wat hy Stellenbosch genoem het, plase kon kry.  Twintig setlaars is grond toegeken in die Stellenbosch omgewing.  Kort daarna het die regering ’n Drosdy (setel van die plaaslike owerheid) gebou, ’n beampte as landdros en vier burgers as heemrade aangestel.  Die regering het geen perk op die grootte van plase by Stellenbosch gestel nie. Die mark was ver weg, en die paaie moeilik begaanbaar, dus is grond wat vir akkerbou geskik is, meestal as weiveld gebruik.
  
Panorama van Stellenbosch soos dit was in 1705

In 1685 het die Kaapse bevolking uit vryburgers, kompanjies-amptenare, knegte en slawe bestaan.  Die meeste van die amptenare was ongetroud.  (Cruywagen, Willem Adriaan:  Die Cruywagens van Suid-Afrika:  ‘n genealogiese en kultuurhistoriese ondersoek.  Hons. BA (UP), D. Phil. (h.c.)(UP).  In 1687 het die Here Seventien besluit om weesmeisies te werf  om Kaap toe te stuur as vroue vir die Vryburgers.  Hierdie werwing is in verskeie weeshuise in Rotterdam gedoen. (Turton, Anthony Richard:  How many bones must you bury before you can call yourself an African? 2009).

In 1687 het Simon van der Stel die eerste 23 plase aan die oewer van die Bergrivier aan Vryburgers toegeken.  Hierdie nedersetting het hy Drakenstein genoem.  Met hierdie uitbreiding na die binneland het die goewerneur geglo dat hy die akkerbou aansienlik sou bevorder en die produksie sou verhoog.  (Cruywagen, Willem Adriaan:  Die Cruywagens van Suid-Afrika:  ‘n genealogiese en kultuurhistoriese. Hons. BA (UP), D. Phil. (h.c.)(UP).  In 1689 het die Franse Hugenote as vlugtelinge na die Kaap gekom, nadat Louis XIV Calvinisme in Frankryk verban het.  Hulle het hulle hoofsaaklik in die Bergriviervallei gevestig.  Simon van der Stel het die Franse Hugenote verwelkom, aangesien hulle kennis van die wynbou bedryf en olyfboerdery gehad het. Vyf Franse gesinne is landgoedere teen die hang van die Paarlberg toegeken.  Die setlaars het boorde groentetuine en veral wingerde geplant.  Die ontevredenheid teen Simon van der Stel se seun en opvolger, W.A. van der Stel oor sy wanbestuur het die Franse Hugenote en die Hollandse koloniste nader aan mekaar gebring.  Hulle het skouer aan skouer gestaan om sy korrupsie en tirannie te beveg.

Die enigste landdrosdistrikte aan die begin van die 18 de eeu met hul onderskeie wyke of gebiede was:  Die Kaap 1665 (Tafelbaai en -vallei, Rondebosch, Tygerberg en Koeberg);
Stellenbosch 1687 (Stellenbosch, Drakenstein, Swartland, Roodezand en Riebeek-Kasteel).


Daar was drie maniere waarvolgens ‘n persoon grond kon bekom, naamlik eiendomsreg, leenplase en vrye erfpag.  Die meeste van die plase in die Westelike deel van die land was toegestaan op die eiendomsregstelsel, wat eienaarskap van die grond, onder sekere voorwaardes aan die boere toestaan het en waarvoor ‘n titel akte uitgereik was.  Met die leenplaas stelsel was die grond gehuur vir ses of twaalf maande en dit het gepaard gegaan met die betaal van huur.  Die erfpag stelsel het grond vir 15 jaar aan ‘n persoon toegestaan, waarna die kontrak weer hernu moes word.

Toe die Kaapse mark teen 1700 oorlaai was, het die seuns van baie van die koring, groente en wynboere hulle op die veeboerdery begin toespits.  Verder kon Leningsplase makliker verkry word vir veeboerdery as ‘n erfpagplaas in die Weste.  Die eerste plase in die gebied bekend as die Swartland is tussen die jare 1703 en 1707 uitgegee.  Die regering aan die Kaap het aan almal wat oor die grens wou beweeg, weilisensies uitgereik.  Die jongmanne was gretig om dit te doen, want hulle kon deur veeboerdery alleen aan die lewe bly.  Die seun van die landbouer het dan met sy klein klompie vee en sy weilisensie binne-in sy Bybel in die wakis, oor die grense van die Kolonie na die dieper binneland getrek om vir hom ‘n selfstandige bestaan te gaan uitwerk.  By die veeposte is eers net skaapwagtershutte gebou, maar later het dit in voltyds bewoonde veeplase verander.  Hulle het vir hulle vroue in die Kaap gaan haal en permanente woonhuise gebou.  Al wat hulle moes betaal, was ‘n jaarlikse huur van 24 riksdaalders.  Elke veeboer het probeer om so ver as moontlik anderkant sy buurman te gaan woon, totdat natuurlike hindernisse hulle to stilstand gedwing het. 

Daar was drie lyne van migrasie waarlangs veeboere leenplase bekom het.  Een het noordwes geloop en afgetak na die noordooste, een het die Hottentots Holland reeks oorgesteek en die kuslyn gevolg wat verdeel het en na die noordooste beweeg het en die derde lyn het deur die Karoo geloop, al langs die Nieuweveld.  Die laaste twee lyne het stadig tot die grensdistrikte van die Oostelike Provinsie gevorder.


Gedurende die eerste jare van die 18de eeu het die veeboer noordwaarts getrek en  tussen die weskus en die bergreeks gehou.  Tot 1708 word die meeste weilisensies uitgereik in die rigting van Groenkloof, Soutrivier, Dassenberg, Bergrivier en Vier en twintig riviere.  Ooswaarts kon hulle nie trek nie, want die Goewerneur het daardie rigting die land gemonopoliseer.  Sy veeposte het in die teenswoordige Caledon gelê en dit het die weg oor die Hottentots-Hollandkloof vir die koloniste versper.  Na die herroeping van W.A. van der Stel het die koloniste sy veeposte in besit geneem en hiermee het die trek na die ooste begin.  (Van der Merwe, P.J.:  Die Noordwaarse beweging van die Boere voor die Groot Trek (1770 – 1842). P. 1.)

Teen 1717 word die mees noordelike veeposte in die Verlore-vallei en langs die Kruisrivier agter Piketberg aangetref, terwyl die ooswaartse stroom al byna die mond aan die Breë rivier bereik het.  In 1725 het die eerste koloniste hulle in die Olifantsrivier-vallei gevestig en teen 1732 word die mees noordelike plase naby die samevloeiing van die Olifants- en Doornriviere uitgegee.  Intussen het die oostelike uitbreiding suid van die Langeberge gehou en teen 1727 bereik hulle die Breërivier, in 1729 die Gourits en 1730 die Groot Brakrivier.  Kort voor 1730 is albei hooftrekke deur hindernisse gestuit.  In die noordweste, die dorre woestynagtige streek, swak voorsien van standhoudende water en in die ooste, digte woude.

Dit het die koloniste beweeg om teen 1730 met hulle vee oor die berge te trek.  Teen ongeveer 1728 begin die trek oor die Olifantskloof in die Bokkeveldsberge en oor Mostertshoek in die Witsenberge na die Koue- en warm Bokkeveld (op pad van die huidige Ceres na Matjiesfontein).  By Karoopoort was daar ‘n geproklameerde uitspanning vir reisigers van die noordelike binneland.  Omtrent dieselfde tyd begin die oostelike groep oor Kogmanskloof in die Langeberge trek.  Daarna trek hulle weer ooswaarts en hou tussen die Lange en die Swartberge.  Gedurende die jare 40/s swaai die trekrigting van noord na oos.  Uit die Bokkeveld trek die koloniste deur die Karoo, wat hierdie streek van die Roggeveld skei en vestig langs die noordelike hange van die Roggeveldsberge.  Die kolonisasie van hierdie streek was beperk tot vallleie en bergdele, waar meeste standhoudende water was.  Die omgewing noord is as trekveld gebruik en veeposte is tot aan die Renosterrivier en die Klein- en Groot- Rietriviere aangelê.  In die middel van die 18de eeu was daar nog net drie distrikte, die Kaapse distrik, Stellenbosch en Swellendam (1745).  Teen 1769 is die streek noord van die Swartberge as behorende tot die distrik Stellenbosch verklaar.  


In 1780 is die oostelike grens van die Kolonie as die Visrivier en in die noordweste as die Buffelsrivier vasgestel.

Die reënval in die Kaapkolonie neem toe van die weste na die ooste.  Die smal strook oor die sneeuberge met die Seekoeirivier af na die teenswoordige Vrystaat en Transvaal was goeie skaapwêreld en het ook goeie standhoudende water gehad en verder noord was daar bruikbare grond en genoeg wild om dwarsdeur die 19de eeu boere te lok.  Voordat die uitbreiding oor die Sneeuberge begin het, het die Boesmans begin om pioniers se vee (1790) op groot skaal te steel.  Hierdie onophoudelike rowery het baie van die boere eensklaps tot armoede gebring.  Ander het moeg geword van die moeite en onkoste verbonde aan kommando’s wat gedurig in die veld moes bly.  Plase is helder oordag aangeval, mense vermoor, geboue afgebrand en troppe vee weggedrywe.  Dit het die vestiging van boere op die noordgrens van Graaff-Reinet bemoeilik.  Die Boesmans het hulle dikwels van hulle plase af verdryf.  In 1791 was minstens 100 plase onbewoon.    Die Noordwaarse beweging van die Boere voor die Groot Trek (1770 – 1842) P.J. van der Merwe, P. 18.

Die VOC het nuwe distrikte soos Swellendam (1746) en Graaf Reinet (1785) gestig om wet en orde te probeer handhaaf.  Met die stigting van die distrik Graaff-Reinet in 1798 het die Gamka die wesgrens uitgemaak.  Die gebied wes en suid van die Gamka het onder Stellenbosch bly ressorteer tot 1805 toe dit aan die nuutgestigte distrik van Tulbagh gesny is.  Die ontevrede Koloniste het in opstand gekom teen die bestuur van die Kompanjie.  In 1795 het die Graaff-Reinetse burgers ‘n republiek uitgeroep en ‘n paar maande later het Swellendam dieselfde gedoen.

Gedurende die regeringstydperk van die kompanjie was daar nooit vir die Kaapkolonie ‘n noordgrens vasgestel nie.  So ver as wat die regering leningsplase uitgegee het, het hy die land as die grondgebied van die Kompanjie beskou en die bestuur daaroor aanvaar.  Trekboere het in 1795 meer as 2000 leningsplase gehad.  Op hierdie manier het die kolonialisasie gereeld ooswaards deur die Klein Karoo en die Groot Karoo uitgebrei en gedurende die 18de eeu is die dorre dele van die Boesmanland bereik.

Na die Franse revolusie, het die Republiek van Frankryk, Nederland in 1795 oorwin.  Die Nederlande het hierna bekend geraak as die Betaafse Republiek en die Prins van Oranje het na Engeland gevlug.  Die Prins van Oranje het gevra dat Engeland die Franse moes verhinder om besit van die Nederlandse kolonies te neem en dit is hoe Engeland betrokke geraak het by die Kaap.  Dit het gelei tot die eerste Britse besetting van die Kaap in 1795.  Die land was in ‘n ernstige depressie, dus het die mense van die Westelike distrikte die eerste Britse besetting verwelkom.  Vrye interne handel was toegestaan.  Die koloniste kon hulle voorregte en hulle geloof behou en kon kom en gaan soos hulle wou.  Vryburgers kon ook nou self handel dryf en baie Algemene handelaars winkels is in Kaapstad en ander dorpe opgerig.    Progressiewe boerdery is ook aangemoedig.

Die besetting van land na die noorde is aangehelp deur die seisoenmigrasies wat op die noordelike grensdistrikte ‘n doodgewone ding was.  Die eerste paar jaar het die wintertrek van die Sneeuberge na die Karoo-dele ‘n belangrike rol gespeel.  Winter in die Sneeuberge was koud en min brandhout was beskikbaar.  Vir die vee was dit gevaarlik, want hulle kom met koue reëns in die sneeu verkluim.  Pasgebore lammers kon verkluim indien daar nie na hulle omgesien sou word nie.  Ten spyte van baie moeite was dit nie altyd moontlik om skade te vermy nie.  Die mense het begin om in die warmer Karoo te gaan oorwinter.  Hierdie trek na die vlaktes langs die Seekoeirivier en Renosterberg het al in 1803 plaasgevind.  Soos meer plase in die trekveld uitgeggee is, moes die boere elke jaar verder trek met die vee.    Die Noordwaarse beweging van die Boere voor die Groot Trek (1770 – 1842) P.J. van der Merwe, P. 118. 

Vanaf 1803 – 1806 was daar weer ‘n Betaafse bewind aan die Kaap, wat beeindig is met die tweede voorlopige Britse besetting van 1806.  Na die Britse onttrekking aan die Kaap in 1803 is 3150 Nederlandse troepe van die Bataafse Republiek na die Kaap gestuur om die verdediging van die gebied oor te neem.  Omdat die owerheid nie meer huursoldate kon bekostig nie, is die kommandostelsel ook weer in ere herstel.

Toe Brittanje die Kaap vir die tweede keer in 1806 beset het, is die kommandostelsel voorlopig behou.  Elke distrik is onder die beheer van ‘n landdros geplaas en in wyke onderverdeel wat onder die militêre bevel van ‘n veldkornet gestaan het.  In tye van oorlog het die veldkornet die burgers in sy wyk tot diens opgeroep.  Die uitputtende grensoorloë en patrolliewerk het weldra hul tol begin eis.  Sommige burgers het twee uit elke ses maande aktief gedien en moes hul eie perde en voorrade vir agt dae verskaf.

Vanaf 1813 is kroongrond nie meer volgens die leningsplaas stelsel uitgegee nie.  Kleiner plase is op die erfpagstelsel uitgereik.  Hierdie plase is opgemeet en die eienaars het transportbriewe ontvang.  Volle eiendomsreg het boere aangespoor om verbeterings op die grond aan te bring.  Dit was nie gewild onder die grensboere nie.

Die einde van die Napoliontiese oorloë is deur die Vrede van Parys verseël, waarvolgens Nederland die Kaap in 1814 permanent aan Brittanje oorgegee het.  Na hierdie oorloë was daar groot werkloosheid in Engeland en Lord Somerset het besluit om Britse Setlaars na die Kaap te stuur.  Hy het tevergeefs gehoop dat die Britse Setlaars sou help om wet en orde tussen die Olifants en Sondagsriviere te handhaaf.  Die eerste Britse setlaars het in 1820 aan die Kaap gekom en daarvandaan is hulle na Algoabaai (Port Elizabethgestuur.  Die Britse setlaars het met merino skape begin boer.

 Landing van die Britse setlaars 1820

Ofskoon die Groot Trek in 1835 begin het, was dit nie voor die vyftigerjare dat die twee Trekker-republieke gestig is nie.  In 1854 is die Oranje Vrystaat gestig met beheer oor die gebied tussen die Oranje en Vaalrivier, waar daar in 1856 die Zuid-Afrikaanse Republiek uitgeroep is met jurisdiksie oor die gebied tussen die Vaal en die Limpopo.  Aan die einde van die 18de eeu was die boerdery In die Boererepublieke soortgelyk aan die van die Kolonie.  Die burgers in Transvaal het groot plase as eiendomsplase ontvang en in die Vrystaat as erfpagplase.  Die Republieke was dun bevolk.  Daar was nie goeie paaie nie en die boere het in maatskaplike afsondering geleef.  As geharde pioniers was hulle selfvoorsienend.  Plase in die droë westelike deel, waar Kimberley sou ontstaan, is deur persone wat plaasgrond nodig gehad het, beset.  Daar was min paaie in die ZAR en die ossewa was die belangrikste vervoermiddel.  Smouse het noodsaaklihede vir beeste verruil.

In 1852 is begin met die ontginning van basiese mineraalneerslae, toe ‘n Britse maatskappy koper in Namakwaland begin ontgin het.  Boerdery was tot 1870 die belangrikste bedryf in Suid-Afrika.  Toe daar ‘n begin gemaak is met die ontginning van goud aan die Rand, was Suid-Afrika hoofsaaklik ‘n landelike gemeenskap.  Daarna het die Rand groot getalle mense uit omliggende gebiede getrek en ook vanaf Brittanje en ander lande.  Die immigrante was meestal stedelinge of was in die handel betrokke.  Hulle het baie verskil van die Veeboere en laasgenoemde het hulle as uitlanders of vreemdelinge beskou.


In die tweede helfde van die 18de eeu het Suid-Afrika uit die twee Britse kolonies en die twee onafhanklike Boererepulieke (Oranje Vrystaat en die Transvaal) bestaan .  In die tyd van die Boererepublieke word die Van der Westhuizens aangetref o.a. in die distrikte Rustenburg, Pretoria, Heilbron en Winburg, terwyl groot getalle wat in Kaapland agtergebly het, veral naby Oudtshoorn, Malmesbury en Victoria-Wes gewoon het.

Die Dorslandtrekkers was drie groepe trekboere wat die Transvaal in 1874, 1875 en 1877 verlaat en die Kalahari-dorsland oorgesteek het om nuwe woonplek te soek.  Hulle het uit die Rustenburg, Marico en Pretoria areas vertrek. Hulle moes onder baie moeilike omstandighede deur die droë dele van die Kalahari, wat vandag Namibië en Botswana is trek.  Die eerste Dorslandtrekkers het hulle in 1876 in Rietfontein gevestig.  Die Herero leier, Maharero het nie hulle teenwoordigheid daar vertrou nie en het die beskerming van die Britse Kaapkolonie gevra.  Die Brit W.C. Palgrave het aan Maharero beskerming beloof en verklaar toe Walvisbaai, Otjimbingwe and Kaokoveld as Britse grondgebied.

In 1878 het die “Dorslandtrekkers” verder noord beweeg.  Hulle het Palgrave in 1879 by die Okavango ontmoet, en hy het hulle toe na die Kaokoveld gestuur.  Die reis was moeilik en verskeie grafte van boere word op die roete aangetref.  In 1880 het hulle besluit om noord oor die grens tot in Angola te trek. Toe hulle in Angola nie toegelaat is om Afrikaans in die skole te gebruik nie, het ‘n klompie van die boere terug suidwaarts in die rigting van Suidwes Afrika getrek.

Tussen 1880 en 1892 het die Herero ‘n nuwe vyand gehad.  Moses Witbooi en sy seun, Hendrik, wou die Namas verenig en die Hereros oorwin.

Na die Duitse anneksasie van Suidwes-Afrika in 1884 het baie Afrikaners ook vanuit die Sandveld hulle in Suidwes gevestig.  Hendrik Smit wat van Piketberg af getrek het, het by Gibeon met Hendrik Witbooi vir hom en sy mense uit die Boland vir grond onderhandel.  Op 10/10/1904 is Smit op die plaas Swartmodder tussen Mariental en Kub doodgeskiet deur Izak Witbooi, Hendrik se broer.  Izak het beloof om die res van die trekgeselskap ongedeerd te laat gaan, indien hulle hul wapens sou afgee.  Nadat die Namas hulle wapens afgeneem het, het Izak die opdrag gegee om alle mans en seuns dood te skiet.  Die dooie kinders is op ‘n hoop gegooi.  Skielik so onder die ander dooies uit het die driejarige Ben van der Westhuizen opgestaan en huilend na sy ma toe gehardloop. Net sy arm was afgeskiet.  Izak het gesê:  De, vat jou kind – die Here wil hom nie hê nie” en het toe vertrek.  Die oorlewendes het nooit Kub bereik nie en het na maande se swerf uiteindelik in Upington beland.  (Rapport 15/05/2010).

Van der Westhuizen, Hendrik (+ 10.1904) at Kosis. Hendrik van der Westhuizen was a boer who bought the farm Kosis from Hendrik Witbooi on 19.06.1901. At the beginning of the German-Nama War in October 1904, v.d. Westhuizen and most male member of his family were killed in October 1904 at Kosis by Witbooi soldiers.

Ander van der Westhuizens wat in 1904 in die sentrale dele van Duits-Suidwes-Afrika gewoon het, was:
Barend van der Westhuizen, Karigab, Distrik Maaltahöhe.
Jacobus van der Westhuizen, Dassiesfontein, Distrik Gibeon.
C.J. van der Westhuizen en Pieter van der Westhuizen. Hy word as Kommandant aangestel op Gibeon. Amalia.  Distrik Gibeon.
J.D. van der Westhuizen.  Saam met Smeer na Berlyn in 1900 en verkry reg vir Afrikaners on te vestig, maar mag nie eie skole en kerk hê nie.  Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog was J.D. van der Westhuizen van Griekwastad een van ‘n afvaardiging wat dr. Hendrik P.N. Muller vergesel het, toe hy die Duitse owerhede in Berlyn genader het om verlof dat Boere-emigrante na Suidwes en Oos-Afrika verhuis.
Hendrik P. van der Westhuizen.  Swartmodder.  Word op 10/10/1904 saam met sy seun Gys vermoor. 

Die Engelse het besef dat daar groot rykdom buite die grense van die Kaapkolonie was en het in 1877 die Suid Afrikaanse Republiek (Republiek van die Transvaal) geannekseer.  Die boere was woedend en op 16 Desember 1880, het hulle hulself onafhanklik verklaar van Brittanje.  Dit het gelei tot die Eerste Anglo Boere-oorlog (16/12/1880 – 23/03/1881).  

Gebeure rondom die Rand sou uiteindelik ook lei tot die Tweede Anglo Boere-oorlog (11/10/1899 – 31/05/1902).  Verskeie Van der Westhuizens het hul baie dapper gedra in die Vryheidstryd.  Op die Burgermonument op Kroonstad kan die naam van  J. van der Westhuizen gelees word, wat ‘n besondere dapper krygsman in die Oranje-Vrystaatse kommando’s was.  Hendrik Petrus van der Westhuizen het in Oktober 1899 as seun uit die skool op Griekwastad gedros om by die Kaapse rebelle te kan aansluit.  Hy het aan verskeie groot veldslae deelgeneem, is gevange geneem, maar het daarin geslaag om in 1901 weer by sy kommando aan te sluit.  In die gevegte by Rooikoppies in die distrik Hay, K.P. is hy ernstig gewond.  Later was hierdie Van der Westhuizen een van diegene wat hulle by genl. Manie Maritz gevoeg het in die Rebellie van 1914.  Jasper Petrus Cornelis, geb. c. 1876 is een van die Van der Westhuizens wat gesneuwel het in 1899 tydens die Anglo-Boereoorlog.

In 1885 is bepaal dat ‘n assistant-veldkornet aangestel kon word, indien daar meer as 200 dienspligtige burgers in ‘n betrokke wyk gewoon het.  Met die uitbreek van die oorlog het Salmon van As as burger by die Heidelbergse Kommando, Zuikerboschrand-wyk, onder assistant-veldkornet Dawid van der Westhuizen aangesluit.  Nadat Asst-veldkornet Dawid van der Westhuizen op 12 Februarie 1902 gesneuwel het, is Hansie Botha tot hoof-veldkornet en Salmon van As tot assistend veldkornet verkies.
Andries Jacobus van der Westhuizen van Elizabethdale, Newcastle is op 19/06/1902 tot 5 jr tronkstraf gevonnes deru die militêre hof van Ladysmith omdat hy in vroeë 1900 vanaf Natal na OVS is waar hy die Boere gedien het totdat hy gevange geneem is in 1902.

Die Dekoratie voor trouwe dienst 1899 – 1902 is aan assistant veldkornet G.J. van der Westhuizen toegeken.
  
Memorial for the burghers who fell in the 2nd Freedom War 1899-1902 and 1914 - Bethal

Battle of Paardeberg

Belfast area

 Vredefort, Vrystaat

Petrus van der Westhuizen word as Britse soldaat hier onthou - Heilbron Vrystaat

Volksrust, Mpumalanga

Konsentrasiekampe

 Kinders wat in die Kroonstad konsentrasiekamp gesterf het.

Kinders oor 15 jr wat in die Kroonstad konsentrasiekamp gesterf het.

 Vereeniging

 Turffontein konsentrasiekamp

Klerksdorp konsentrasiekamp

Van der Westhuizens exiled gedurende die Anglo-Boereoorlog was Jacob Willem, Frederik Korsten, Cornelius, Hermanus Joannes, Lourens Martinus (korporaal), Cornelius, Hermanus Daniel, Nicholas, Hermanus Petrus, Jan Johannes Matthys en Nicholas Johannes.  B.J. van der Westhuizen se naam kom voor in die lys van Boere Krygsgevangenes wat oorsee in kampe gesterf het 1900 – 1902.

 Ballingskap.  Bloemfontein Vrouemonument

Die van der Westhuizens het in die eerste helfte van die 20 ste eeu nie net uitgestaan as boere en krygsmanne nie, maar het hulle merk gemaak op verskeie ander gebiede.