g.8. Gysbertus Johannes Goosen VON WIELLIGH, geb. 19/11/1897, ged. 20/02/1898

g.7.  Gysbertus Johannes Goosen (Gys), geb. 19/11/1897, Springbok, Hardeveld, ged. 20/02/1898, Namakwaland, oorl. 27/09/1955, x met Anna Sophia Wilhelmina (Annie) NEL, geb. 20/11/1902, oorl. 11/06/1993, Keimoes, d.v. Johannes Willem Nel en Anna Sophia Wilhelmina Berg.  ASWN xx Hans ALBUS.

Gysbertus Johannes Goosen was die seun van Hendrik Johannes von Wielligh en Gloudina Maria Johanna Catharina Engelbrecht.


Gys is na sy oupagrootjie aan moederskant, Gysbertus Johannes Goosen vernoem.  Hy is op 19/11/1897 op Kamogas Biesies naby Springbok, Hardeveld gebore en het in die Namakwaland grootgeword.  Springbokfontein is ‘n vertaling van ‘n Nama-woord wat aandui dat die springbokke gewoond was om by ‘n fontein te kom water suipDie eerste verskeping Van kopererts het in 1852 plaasgevind, en het van Springbokfontein in Namakwaland uitgegaan.  Gedurende die laaste jare van sy verblyf het Ds. Hauman (1870-1881) op Matjieskloof, naby Springbok, gewoon, nadat hy Bowesdorp as gevolg van 'n gebrek aan water moes te verlaat.  Na die vertrek van Ds. Conradie in 1895 het daar weer 'n lang vakature gevolg wat skadelik was vir die welsyn van die gemeente, omdat dit juis 'n tyd van ongekende droogte was.  A severe drought in 1895 as well as an attack during the Anglo-Boer War caused the population of Springbokfontein to collapse again and the village became more or less derelict.  In 1900 though life returned once again.  (Kostka, Berit:  Namaqualand – a short history of nearly everything)

(Fleminger, David:  Richtersveld: Cultural and Botanical Landscape : Including Namaqualand) 

In die middel van 1897 is 'n beroep uitgebring op Ds. W. S. E. Rorich.   Ds. W. S. E. Rorich het  gewilliglik die beroep na Namakwaland aangeneem en op 4 September 1897 is hy deur die konsulent op Garies bevestig, waar hy ook gewoon het. Hy het sy bes gedoen in en vir die gemeente en te oordeel na die oorvloedige en uitvoerige berigte wat etlike jare lank gereeld in De Kerkbode verskyn het, was sy arbeid geseën. Hy het volgens die beskrywings duisende myle dikwels in 'n ope kar afgelê en op alle moontlike plekke godsdiensoefeninge gehou en die verstrooide kudde besoek. Veral het hy hom beywer om die kerkgebou op Springbok wat in puin gelê het te herstel, wat ook in 1899 geskied is. Ds. Rorich was na die afstigting van Garies op Bowesdorp woonagtig en het in die gemeente gearbei tot 27 Januarie 1908 toe die band tussen haar en hom deur die Ring van Clanwilliam losgemaak is.  (http://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/12563/002_p1-49.pdf?sequence=2)


Springbok in 1880 (Kostka, Berit:  Namaqualand – a short history of nearly everything)

Ds. W. S. E. Rorich kon iets mooi beskryf. In Het Zuid Afrikaansche Jaarboek van 1906 verskyn van hom 'n treffende beskrywing van De Oranje Rivier of Gariep,  wat nogal tintel met digterlike beskouinge, waar hy praat van Meedogenlooze Ichthyophagisten,  van Zeegans, kropgans, waterhoen, zeeduiker, meeuw, reiger, :flamingo, snip - loopend, zwemmend, vliegend, duikend, vechtend - en alIe gelijktijdig schreeuwend en piepend zooals ze gebekt zijn.  (http://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/12563/002_p1-49.pdf?sequence=2)  Die von Wiellighs het vanaf Namakwaland na Paarde-eiland (Witkopeiland) getrek, waar hulle ‘n besproeiingsboerdery begin het.  Gys het slegs tot St. 2 skoolgegaan.

Na hulle pa se dood in 1914 het die Von Wielligh-seuns  op Marchand voortgeboer.  Hulle het egter nie baie lank daarmee voortgegaan nie, want Gys en Hennie was besigheidsmanne en het  ‘n vennootskap gevorm.  Hulle het winkels op Nammies, Hou moed en Nous in die Boesmanland gehad en het met wa en donkies gesmous, deur ware in die Kaap aan te koop en dit dan weer verkoop.  Om  smoustogte aan te pak was ‘n baie algemene aktiwiteit wat die boere aangegaan het, wanneer dit finansieël moeilik met hulle gegaan het.


Gys het vir Anna Sophia Wilhelmina Nel op Nous in die Boesmanland ontmoet.  Annie het op die plaas Nous-Wes grootgeword.  Haar pa, Johannes Willem Nel wou baie graag hê dat Annie met die seun van die buurplaas, Schalk Willem Schultz, moes trou.  Die Schultze was baie vermoënde mense en hulle familie het ‘n hele aantal plase in die omgewing besit.  Gys was op hierdie stadium nog ‘n baie arm man en Jan Nel was waarskynlik bang dat Gys nie goed genoeg vir sy dogter sou kon sorg nie.  Die storie word vertel dat haar pa vir haar die dag voor haar troue, £100 aangebied het, as sy sou besluit om nie met Gys te trou nie.  Sy het blykbaar daarop geantwoord dat nie eers 100 goue ponde haar van haar besluit sou laat verander nie.


Na hulle troue het Gys en Annie Pofadder toe getrek.  Hier het hy baie pionierswerk vir die dorp gedoen.  Gys en sy broer Hennie het vir ‘n tyd lank saam die winkel op Pofadder bedryf.  Die storie word vertel dat Gys en Hennie 'n ooreenkoms gehad het waarvolgens Hennie al die inkomste uit die kontantverkope sou kry en Gys al die inkomste wat verhaal kon word uit verkope wat op skuld gegee is.  As gevolg van armoede wat aan die orde van die dag was, het Gys blykbaar baie gesukkel om die geld uit die mense te kry.

In die tyd van die Pofadderwinkel het Gys ook met negosieware tot by die Olifantsrivier op Vredendal gesmousMet een geleentheid het die donkiewa waarop daar tabak was, omgeval en het die wa amper in die rivier beland. Op tog met die smousery het Gys altyd langs die wa geloop.  Hy het vertel dat hy met elke tog keer drie maal Kaap toe geloop het, soos hy van trekdier na wa, na trekdier beweeg het.


Die transportwa waarmee Gys vanaf Riebeeck-Wes tot in Pofadder gesmous het

Aangesien dit finansieël baie swaar met hulle gegaan het, het Gys besluit om met sy gesin na Riebeeck-Wes te verhuis, waar hulle gewoon het, terwyl Gys in die Boesmanland gesmous het.  In ongeveer 1930 het Gys ‘n winkel op Riebeeck-Wes bedryf, maar het later besluit om terug te gaan Pofadder toe.  In 1934 het Gys en Hennie besluit om hulle vennootskap te ontbind.

Gys, Annie en hulle kinders het toe besluit om in Keimoes te gaan woon.  Dit was kort na die Groot Droogte van 1933 en Depressie toe hulle Keimoes toe getrek het.  Gys het Keimoes Hotel by ‘n mnr. Loewenstein gekoop.  Die von Wiellighs was arm mense en toe hulle die Hotel gekoop het, was die omset maar £30 – £40 pond ‘n maand.  Manne wat deur die Boesmanland, Namakwaland, van so ver as Pofadder en Springbok gereis het, het by Keimoes Hotel aangedoen en daar oornag.  Gedurende daardie jare is daar gereis met perde, donkiekarre en ossewaens, maar daar het selfs nou en dan ‘n ou Model-T Fordjie aangedoen.



Gys en Annie met hulle vier kinders, 'n jaar nadat Gys die hotel gekoop het.

Keimoes was ‘n vaal dorpie met 'n lang grondpad wat sinkplaat getrap was.  En Keimoes Hotel was 'n ry baie klein vertrekke op die grondvloer.  Die hele hotel het uit tien kamers bestaan, waarvan net vyf beskikbaar was vir die publiek;  een klein sitkamer; 'n eetkamer; 'n blanke kroeg; 'n kleurlingkroeg; 'n kombuis en 'n bottelstoor.  Alle deure van die hotel het na buite gewys.


Oorspronklke gebou van Keimoes Hotel.


Daar was geen elektrisiteit nie en kerse en lampe was gebruik om lig in die hotel te verskaf.  In die tyd wat die Jode die hotel gehad het, moes daar maar min besoekers gewees het, aangesien hulle die skoon lakens (netjies opgevou) in ‘n seiltjie op die stoepe neergesit het.  Die mense wat die hotel besoek het, het dan die lakens “gestryk” deur daaroor te loop.  Gys het ‘n Dover-stofie wat met hout warm gestook is aangeskaf en die wasvroue het met swart parsysters die lakens gestryk.  Die etes is op ‘n houtstoof voorberei.

Gys se handtekening

Die maatskappy, Castle Wine & Brandy Co, het vir Gys gehelp om op sy voete te kom deur vir hom drank te stuur en dan vir hom uitstel van 90 dae te gee, voordat betaling daarvoor ontvang is.  Die buiteverkoopafdeling (bottelstoor) het in die beginjare baie min besigheid gedoen, aangesien alle boere in die omgewing hulle eie witblits gestook het.  Die Hotel het deur ‘n baie moeilike tyd gegaan.  Boonop het Gys se broer Hennie, toe die huidige Keimoes Kafee gekoop, waar hy 'n losieshuis oopgemaak het as opposisie vir hom.  Die losieshuis is later as koshuis gebruik.

Gys saam met Sersant van der Merwe.

Met tyd het vooruitgang gekom en teen 1939 is 'n nuwe hotel gebou.  Die plat rytjie geboue het plek gemaak vir 'n verbeterde dubbelverdiepinggebou.  Hierdie werk het Gys aangepak ten spyte van die feit dat dit ten tye van die Tweede wêreld-oorlog, was toe alles skaars was.

Keimoes Hotel in aanbou met oorspronklike Hotelgebou en naambord regs sigbaar.

Hierdie gebou het twaalf slaapkamers; drie sitkamers;  'n kroegsitkamer (wat later die dameskroeg sou word); binneshuise badkamers en toilette gehad.  Die ablusie geriewe was ‘n groot verbetering, aangesien die ou Hotel net een publieke badkamer en twee buitetoilette gehad het.  Die gange wat bygekom het was ook iets wat die ou hotelgebou nie gehad het nie.

Sy-aansig van die nuwe gedeelte van Keimoes Hotel. 1939.

Die ou wasskottel, wastafel en wasbeker is vervang met moderne geriewe.  Die ongesuiwerde water wat direk uit die kanaal vir die hotel gebruik is, is nou deur die hotel se eie suiweringsprosesse gesuiwer.  Hierdie nuwe geriewe het die ander fasiliteite wat daar reeds was aangevul.


Vooraansig van die nuwe voltooide Keimoes Hotel.

Gys was ‘n fantastiese besigheidsman met ‘n goeie verstand en hy het oor wonderlike menseverhoudinge en humorsin beskik.  Hy het dit nooit te vroeg of te laat beskou wanneer dit by die uitvoering van sy verpligtinge gekom het nie.  Hy het ook gedurig vir die toekoms beplan.


Gys saam met sy kinders Hennie en Anna


 Daar was geen elektrisiteit op Keimoes nie en Gys het, toe hy dit kon bekostig, ‘n petrolaangedrewe masjien gekoop wat ‘n aantal batterye gelaai het.  Hierdie masjien het die Hotel verlig tot tienuur in die aand, wanneer die hotel dan ook vir die nag gesluit is.

Een van die gebeurtenisse wat daartoe gelei het dat elektrisiteit vir Keimoes ‘n realiteit geword het, was toe die eerste dokter van Keimoes, Dr. Carter ‘n noodoperasie op ‘n dame wat ‘n gebarste blindederm gehad het, op die agterstoep van die Hotel se kombuis gedoen het.  (Dr. Carter moes altyd sy operasies in Upington gaan uitvoer.)  Alhoewel die mense vantevore teen die aanskaf van elektrise krag vir Keimoes gekant was (aangesien hulle gedink het dat Gys dit uitsluitlik vir die hotel wou laat doen), het hulle nou hulle houding verander en van toe af is daar gewerk aan die aanskaf van elektrisiteit vir Keimoes.

Gys het die landdroskantoor, die huis van die eerste prokureur van Keimoes, Wolly Truter, sowel as die polisiestasie gebou, sodat Keimoes as dorp gestig kon word en ‘n munisipaliteit gevorm kon word.

Nadat die dorp van krag voorsien was, kon Gys elektriese toebehore vir die Hotel koop.  In plaas daarvan dat die beddegoed met die hand gewas is, het Gys ‘n moderne wasmasjiene en draai-droër gekoop.  Elektrisiteit het hom ook in staat gestel om later ‘n elektriese stoof aan te skaf, ter aanvulling van die steenkoolstoof, wat reeds die houtstoof vervang het.  Laterjare het Hennie ‘n groot strykrol wat met elektrisiteit gewerk het, vir die Hotel gekoop.  Lakens is twee-twee daardeur gerol.

Gys was vir 12 jaar raadslid van Keimoes.  Hy was voorsitter van die dorpsbestuur en toe dit ’n Munisipaliteit word, is hy verkies tot eerste Burgermeester van die dorp en lid van die stadsraad.  Gelyktydig was hy die Onder voorsitter van die Afdelingsraad van Gordonia en hy het die amp vir ongeveer 10 jaar beklee.



Dit het hom in staat gestel om ‘n groot aandeel te hê in die besluit om die teerpad vanaf Kaapstad, deur Keimoes te laat gaan, in plaas daarvan dat dit direk van Kenhardt oor Louisvale na Upington en SWA sou gaan.  As hy nie sy invloed as voorsitter gebruik het nie, sou Keimoes ‘n spookdorp geword het.  Annie het die Burgermeestersketting gekoop en geskenk vir die Keimoes Munisipaliteit.


Keimoes se hoofstraat word geteer

Alle koeldranke wat die hotel verkoop het, is deur hulle self gemaak en die wyn is self gebottel.  Wyn is deur middel van die spoorweë verkry vanaf die groothandelaars wat die wyn per vat vanaf Kaapstad verskaf het.

Gys voor die selfgebottelde wyn en koeldranke

In die tyd wat Gys die Hotel op Keimoes bedryf het, was daar dikwels drankbestellings per telefoon uit Kakamas, wat toe onder die beheer van die Arbeidskoloniekommissie was, ontvang.  Sterk drank en dans is ten strengste verbied op Kakamas, maar die mense het die drank per trein van Keimoes af gekry.

Die storie word vertel dat daar 'n sekere omie was, wat maar alte gereeld die Hotel ondersteun het.  Een Sondag in die kerk op Kakamas het hy gedurende die diens aan die slaap geraak.  Omdat hy 'n bietjie doof was, het hy die oorfoontjie van die die kerk in sy oor gehad.  Die predikant het gesien dat hy ingesluimer het en toe hy klaar met die preek was, het hy hard in die mikrofoon “Amen” gesê.  Die omie het wakkergeskrik en nog deurmekaar van die slaap het hy die oorfoontjie beetgekry en kliphard in die kerk gesê: "Hallo Gysie, is dit jy?"  Nodeloos om te sê het almal geweet waaroor dit gaan.

 In 1942 het Gys verskeie plase aangekoop wat altesaam 30 000 morg beslaan het.  Hier het hy  geboer met Merino en Karakoelskape, Afrikanerbeeste en het hy Karakoel stoetramme geteel.  ‘n Gedeelte van die plaas wat aan sy vrou Annie se ouers behoort het (Sout Oup), het in die mark gekom.  Annie se broer Kallie, wat dit toe besit het, wou dit verkoop om vir hom ‘n hotel op Taungs te koop.  Die Nels wou die plaas aanvanklik nie aan Gys verkoop het nie, maar toe hy onderneem om dit op Annie se naam te laat registreer, het hulle ingestem.

Sout Oup

Gys het vier plase besit, naamlik, Boesmansrivier, ongeveer 20 km buite Kakamas;  Restant Regkyk, so 20 km uit Kakamas;  Esterhuizenput in die Gordonia distrik en Sout Oup in die Boesmanland.  Hy het ook besproeiingserwe in Keimoes besit, asook heelwat dorpseiendomme.  In  Mei 1950 het Gys Brittanje en Europa deurreis, om boerdery en nywerheidsmetodes te bestudeer.


Gys was ‘n groot fors man, wat gemoedelik was, maar wat ook die vermoë gehad het om gesag af te dwing.  Hy was netjies, beginselvas en ‘n man wat kon orde hou.  Hy was ‘n suksesvolle en toekomsgerigte mens.  Dit is te verwagte dat daar met jare vooruitgang by hom sou wees en weereens het hy aan die Keimoes Hotel verbeter en vergroot in 1952.

Gys voor die hoofingang van die nuwe vergrote Keimoes Hotel

Keimoes Hotel


Gys het van rugby, jag en skyfskiet gehou

Gys saam met sy seun Berty
In  Mei 1950 het Gys Brittanje en Europa deurreis, om boerdery en nywerheidsmetodes te bestudeer.  Na die aankoop van sy plase, het Gys met dieselfde ywer sy plase bedryf en hy het sy plase gereëld besoek.

Dit het goed gegaan met die Von Wiellighs van Keimoes.  Na die aankoop van sy plase, het Gys met dieselfde ywer sy plase bedryf en hy het sy plase gereëld besoek.  Eenkeer het ‘n jong man van Johannesburg, met die van Glover (hy het by ‘n Siepker meisie kom kuier), met sy vliegtuig buite die dorp geland.  Die Von Wielligh-kinders het almal hand bygesit om die vliegtuig tot by die begraafplaas naby Keimoes se koppie te stoot.  Die Glover man het hierna mense met sy vliegtuig geneem vir plesierritte.  Gys het besluit om vir homself ook ‘n vliegtuig aan te skaf, aangesien hy dan makliker tussen sy verskillende plase kon rondbeweeg.

Daar word vertel dat Gys die geleentheid gesien het om Karakoel stoetramme uit Suidwes-Afrika na sy plase toe in te smokkel.  Hy het karakoelramme by die Nooidam landboukollege gekoop en in streepsakke in die vliegtuig oor die grens gebring.  Al die plase, buiten Sout Oup (hulle het van Gert Nel se landingstrook gebruik gemaak) het landingstroke gehad.  Daar word vertel dat deur middel van die ooptrek van ‘n laken aangedui is of dit veilig was om te land.  Sou dit nie wees nie, het hulle na een van die ander plase toe gevlieg.

Op die plase moes daar gereeld  aan jakkalsjagtogte deelgeneem word.  Tydens so 'n geleentheid is die hele area rondom die spesifieke plaas se boere genader om deel te hê aan die jagtog.  Die meeste van die boere is te perd agter die jakkalse aan.  In 1955 is Gys von Wielligh en Bennie Burger van Keimoes in Bennie se Cesna vliegtuig uit na die plaas Langklip toe om die jakkalse uit die lug uit dop te hou en so die perderuiters in die regte rigting te lei.  Hulle moes te laag gevlieg het en die vliegtuig se enjin het gaan staan.  Dit is iets wat maklik gebeur het met die eertydse vliegtuie.  Die vliegtuig het neergestort en die perderuiters het almal na die toneel toe gejaag.  Daar gekom, was Bennie reeds bewusteloos, maar Gys was by sy volle bewussyn.  Hy het gevra dat die ruiters hom uit die vliegtuig moes help, aangesien hy bang was dat dit sou ontplof.  Twee perde saals is langs mekaar op die grond neergesit, sodat Gys en Bennie regop teen dit kon sit.  Gys het op sy hande gedruk om homself teen die saal op te hys en dit moes op hierdie stadium gewees het dat sy rugmurg gebreek het.  Bennie het sy laaste asem uitgeblaas en kort daarna het Gys op daardie dag van 27 September 1955 gesterf.  Die volgende berigte het in die koerant verskyn:












             
Keimoes hoof begraafplaas


Na sy dood in 1955 het die Hotel onder sy seun Hennie se bestuur en die plase onder sy seun Jannie se bestuur gekom. 

Annie het later met Hans Albus getrou.  Sy was ‘n goeie en gemoedelike vrou, ‘n statige dame wat die vermoë gehad het om mense op hulle gemak te laat voel.  Sy was selfversekerd, sonder om hoogmoedig te wees en het selde of ooit haar humeur verloor.  Sy was uitstekend met brei- en hekelwerk en het toekennings vir haar werk op plekke soos die Upington skou ontvang.

Annie en Hans Albus op hulle troudag

Hans Albus was ‘n Duitser wat homself in Keimoes gevestig het.  Hier het hy aanvanklik met ‘n weduwee Van der Merwe getrou en het hulle na die Strand verhuis, waar hulle vir etlike jare gewoon het.  Na hul egskeiding het hy na Keimoes teruggekeer, waar hy boekhouwerk vir die Keimoes Hotel gedoen het.  Hy het Annie na net twee jaar in 1963 ontval.  Hy het klierkanker gehad en is in Pretoria begrawe.

Na Albus se dood het Annie nog vir baie jare aangebly in die groot huis oorkant die straat van die hotel.  Namate sy ouer geraak het en sy haarself heeltemal onttrek het van die besigheid, het sy besluit om in ‘n woonstel binne in die Hotel te gaan woon, terwyl Hennie met sy gesin in die groot huis ingetrek het.

Agter. vlnr:  Berty, Anna, Jannie
Voor.  Annie en Hennie

Na haar seun Hennie se skielike dood in 1988 het Annie ‘n beroerte aanval gekry wat veroorsaak het dat sy vir die res van haar lewe in die Keimoes hospitaal, met die hulp van haar skoondogter Hennie, verpleeg en versorg is.  Die volgende beriggie het verskyn met haar negentigste verjaarsdagvieringe:



Annie sterf op 11/06/1993, in die hospitaal op Keimoes.


Keimoes hoof begraafplaas


Keimoes soos van Tierkop af gesien.