g.2. Hendrik Johannes VON WIELLIGH, geb. 03/10/1884, ged. 18/01/1885

g.2.  Hendrik Johannes, geb. 03/10/1884, ged. 18/01/1885, Garies, Boesmanland, Namakwaland, oorl. 25/07/1959 x 12/10/1906 met Elizabeth Gloudina MOSTERT, geb. 09/07/1887, Soebatsfontein, Sandveld, oorl. 20/10/1914, eie woning Paarde Eiland, Marchand, d.v. Jacobus Petrus Johannes Mostert en Elizabeth Gloudina Agenbach, van Soebatsfontein, Sandveld xx 17/09/1917, Springbokfontein, Namakwaland met Elizabeth Maria Magdalena CORNELISSEN, geb. 26/04/1896, Aronegas, oorl. 10/12/1917, Kenhardt dist (MOOC 6/9/1071 829) 21 jr, 5 mde, – 3 mde na haar huwelik, begr. Machand, d.v. Jan Cornelissen en Besina Gloudina Agenbag, xxx Catharina Elizabeth BOOYSEN, geb. 23/07/1891, Kenhardt, oorl. 13/08/1921, huis Theronville, Pofadder begrawe (MOOC 6/9/2121 2717) wed. van Johannes Zandberg, oorl. 18/10/1915 – CEB oorlede met geboorte van eerste kind, d.v. Adriaan en Christina Booysen van Moddergat, dist Kenhardt,  xxxx 31/01/1922 met Christina Alida BOOYSEN, geb. 07/07/1898, oorl. 22/09/1977.

Hendrik Johannes was die seun van Hendrik Johannes von Wielligh en Gloudina Maria Johanna Catharina Engelbrecht.

Hy is na sy oupa aan vaderskant, Hendrik Johannes, vernoem.  Garies beteken volgens sommiges kweek en volgens andere volop melk.  Hierdie dorpie Iê omtrent halfweg tussen van Vanrhynsdorp en O’kiep.  Omtrent 1880 het die destydse eienaar van die plaas, Mnr. H. Rossouw, wat toe ouderling was, 'n paar erwe verkoop met die oog op dorpstigting, en toe reeds was daar sprake om daar 'n hulpkerk te bou. Toe die teologiese studente Botha en Muller in 1882 daar op besoek was, was dit baie droog hoewel daar tog genoeg water in de put was "om met behulp van een pomp door een paard getrokken den tuin te besproeien."  Hulle skryf verder: "Deze plaats is zoo gelegen dat een aanzienlijk aantal menschen de kerk alhier kan bezoeken." Dog die kerkgebou het eers gedurende Ds. Conradie se bediening tot stand gekom.   In 1883 het Thomas Bain die trans-Knersvlakte roete van Vanrhynsdorp na Garies voltooi en in 1885 is die eerste skool in Garies gebou.  Hennie is op die 18de Januarie 1885 in Garies gedoop.  Reeds in 1889 was daar sprake van die afstigting van Garies van die moedergemeente en daartoe het die Ring die predikante W. Murray (Worcester) en G. F. Marais (Ceres) afgevaardig met die oog op beter bearbeiding van die Agterveld en om ondersoek te doen na "de wenschlijkheid om een tweede gemeente in Namaqualand te stichten.  Hulle het later Ds. J. C. Truter, destyds van Calvinia bygekry en dIe hele lang pad met 'n klein perdewaentjie afgelê en op alle moontlike plekke godsdiensoefening gehou, soos b.v. Calvinia (vir blankes en gekleurdes), Kamdanie, Loeriesfontein, Garies, Bowesdorp, Springbokfontein (vir Afrikaners en Engelse), Pella (doopsbediening), Goein'oep Diamantrivier, Namies, Pofadder, Nans, Koegap, Brabies, Rooipad. Van die reis en besoek het Ds. Marais geskryf:  Het bezoek werd op hoogen prijs gesteld door diegenen die wij bereiken konden.   Aan die einde van die reis het die Kommissie in vereniging met 'n dergelike kommissie uit die Ring van Beaufort op Kenhardt 'n nuwe gemeente gestig (18 Mei 1889). Dog van 'n verdeling van die gemeente Namakwaland in twee het vereers niks gekom nie. Het groote bezwaar was dat het niet mogelijk zal wezen twee predikanten te onderhouden. Ook was dit moeilik om te bepaal watter plekke die middelpunte van die gemeentes in geval van afstigting moes wees. Die vorige predikant het op Bowesdorp gewoon en Ds. Conradie het Garies gekies. In 1904 is Garies en in 1912 Namies (nou Pofadder) afgestig as aparte gemeentes. (http://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/12563/002_p1-49.pdf?sequence=2)


Hennie as 'n jong man

In 1906 is hy met Elizabeth Gloudina Mostert getroud wat op Paarde Eiland Marchand oorlede is en op Marchand begrawe is.

MOOC Eliza Gloudina Mostert.  Geb. Soebatsfontein.  Ouers Jacob Mostert van Soebatsfontein en Eliza Gloudina van Soebatsfontein.  Getroud. Hendrik Johannes von Wielligh.  Oorl. 26jr. 2 mde, 20/10/1914, woning Paarde Eiland, Marchand, dist. Upington.  Kinders Eliza Gloudina, geb. 18/07/1908, Hendrik Johannes Oostenwald.






FAMILYSEARCH


Korea eiland begraafplaas
Marchand

Na sy pa se dood in 1914, het Hennie (toe 30 jaar oud) nog vir ‘n rukkie geboer op die besproeiingsgrond, Witkopeiland, Marchand.  Hy was egter toe reeds ‘n besigheidsman en het met ‘n wa gesmous en roltabak, swepe en ander negosieware verkoop.  Sy broer Jaap het ‘n rukkie vir hom hiermee gehelp. 

Hennie se tweede vrou Elizabeth Maria Magdalena, ‘n dogter van sy stiefpa, Jan Cornelissen van Aronegas, is drie maande na hulle huwelik in 1917 oorlede.

MOOC 6/9/1071 829.  Elizabeth Magdalena Cornelissen.  Ouers.  Jan Cornelissen & Gesina Gloudina Agenbag. Getr. Hendrik Johannes von Wielligh.  Boer Marchand.  Oorl. 21jr. 5mde. 10/12/1917, dist. Kenhardt.  Broers & sisters.  Gloudina Cornelissen x Steph Cornelissen, Johanna Engelbrecht x J.A. Engelbrecht, Ryshoek Namakwaland.  Gysie G. van Wyk x Gert van Wyk, Wallepoort, Mieta Aggenbag x J.H. Aggenbag, Biesies, G. Andries Cornelissen, Aronegas, Jan Cornelissen, Lourens Cornelissen, Aletta Cornelissen.


Korea eiland begraafplaas
Marchand

Hennie het hierna ‘n winkel op Nous in die Boesmanland gehad.

Die dorpie Pofadder lê in ‘n distrik van 1 miljoen hektaar.  In die begin van die 20ste eeu was dit ‘n dorsland met wienig waterpunte.  Na goeie reën was die vleie vol en het blanke boere vanuit Namakwaland in die weste en die Hantam in die suide die veld van die gebied benut, waarvoor hulle sogenaamde graslisensies nodig gehad het.  Sodra die vleie opgedroog het, moes die vee egter verskuif word na die enkele sandhoudende putte of fonteine, wat maar baie skaars was.  Voor die koms van die blankes was die gebied die tuiste van nomadiese Boesman-en Hottentotstamme. ‘n Groep Korannas, onder hul kaptein Klaas Pofadder, het hulle by ‘n sterk fontein agter die Rooms-Katolieke Sending onder die dorp gevestig.  Reeds op 27 September 1875 het die Buitelandse Sendinggenootskap d.m.v. Eerwaarde Schroder ‘n ooreenkoms met Klaas Pofadder aangegaan en ‘n gemeente in die nedersetting gestig.  Die kontrak het weidingsregte vir blanke boere ingesluit (en ‘n verbod geplaas op die invoer van sterk drank na die area).  Staatsgrond in die distrik is weldra aan pagters verhuur, putte is gegrawe op soek na water en die eerste plase in die distrik is tussen 1891-92 uitgemeet.   (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)  Namies was jarelank een van die afgemeenste kerkplase van Namakwaland. In die tyd van Ds. Conradie is daar 'n kerkgebou opgetrek dog skryf hy:   Acht jaren lang hield ik de godsdienst in de grote tent van de heer Visser.  De gevel van die tent wordt opgeligt en twee grote tentwagens worden overlangs daarvoor getrokken. Dan heb je een lange Kerk en dan kan je heerlijk preken.
(http://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/12563/002_p1-49.pdf?sequence=2)
Namies het as pagplaas aan Mnr. Jan Visser behoort, en Pofadder, 'n ander pagplaas aan sekere heer Corbeau. Die bowegenoemde Kommissie het tydens hul besoek in hierdie geweste meer as op ander plekke gevoel hoe noodzakelijk het was Namaqualand tot twee gemeenten te verdelen. Maar die besware was skynbaar onoorkomlik.  Hulle het op Namies godsdiensoefeninge gehou en die sakramente bedien, dog aan Pofadder het hul as kerkplaas voorkeur gegee. Toen wij te Pofadder aankwamen zagen wij in die plaas net wat wij verlangen. Er is standhoudend water en zij is zeer verkieslijk gelegen. Maar ook in hierdie geval het die kerklike outoriteite hulle langsaam gehaas. Eers in 1912, gedurende Ds. J.A.R. du Toit (1910-1918) se bediening, het die stigting van die gemeente Namies plaasgevind. (http://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/12563/002_p1-49.pdf?sequence=2)

In 1915 verleen die regering toestemming vir die uitmeet van erwe in Pofadder en in 1918 is die eerste erwe teen 20 pond stuk verkoop.  Pofadder was vir die eerste paar jaar van sy bestaan as Theronsville bekend en was na ‘n eertydse landmeter vernoem.    Die dorp is egter later na Klaas Pofadder vernoem. (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)


Straatplan van Pofadder (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)

‘n Jaar na die verkoop van die eerste erwe in Pofadder t.w. in 1919 het Hennie (wat letterlik net sy naam kon skryf) met ‘n jong vrou en twee kinders op Pofadder aangekom.  Hy het ‘n kop vir besigheid gehad, met ‘n geheue om op te steun.

Hennie se derde vrou was Catharina Sandberg (nee Booysen) van die plaas Moddergat in die Kenherdt distrik.  Catharina was ‘n weduwee en het ‘n seun  Kosie gehad, wat op Moddergat gebly en later in die Kenhardt distirk geboer het.  Hennie en Catharina het aanvanklik in ‘n paar vertrekkies agter waar die latere Von Wielligh huis sou staan gebly.  ‘n Winkel het nog nie bestaan nie, aangesien Hennie eers net togryer was.  Dit het maar broekskeur gegaan;  hulle moes glo soms teen sononder gaan slaap om lampolie te bespaar.  Catharina sterf in 1921 by die geboorte van haar en Hennie se eerste kind,  ‘n seun, waarna sy op Pofadder begrawe word.  Haar graf is in die Pofadder begraafplaas reg langs die van Hennie en Alida.   

MOOC 6/9/2121 2717.  Catherina Elizabeth Booysen, geb. Kenhardt.  Ouers.  Adriaan Booysen van Moddergat, dist. Kenhardt & Christina. Getr. Hendrik Johannes von Wielligh.  General dealer. Woon Theronsville, dist. Kenhard.  Vorige man.  Johannes Zandberg, oorl. 18/10/1915.  Oorl. 30jr. 1md. 13/08/1921, huis Theronville.  Kinders.  Jacobus Gideon Zandberg, Adriaan von Wielligh.







EGGSA
Pofadder main cemetery

Op 31 Januarie 1922 trou Hennie met Catharina se suster Alida Booysen.


(Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)

Hennie se pad het waarskynlik met die van die Booysens gekruis, omdat die naaste tak van Standard Bank destyds op Kenhardt was en hy dus daarheen moes gaan vir banksake.  Later is ‘n tak op Kakamas geopen en toe Hennie op ‘n dag aan Standard en Baraclays banke sê dat die eerste bank wat ‘n tak op Pofadder open sy rekening sal kry, open hulle altwee later op dieselfde dag takke op die dorp.  Standard Bank het die rekening behou en ook die bankgebou vir jare van Hennie gehuur.  (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)


Voortrekkerstraat met die winkel, Standard Bank en Commercial Hotel.  (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)

Weldra is die von Wielligh huis voor op die erf gebou.  Vir etlike jare dien dit as woning en winkel.  Al die von Wielligh kinders het In die groot ou huis grootgeraak.  Daar is in die somer op die breë voorstoep geslaap en dis ook waar Hennie saans sy whisky gedrink het.  Op die agterstoep het Alida middae vieruur biltong gekerf en boerbrood gesny om die mae vol te hou.  Sy het die hele dag kos gemaak in die kombuis met die hulp van ou-Aia en Sara Sam-sam, terwyl Outa Piet die kastrolle gewas het.  Daar was altyd sop koffie en elke aand se mekkos op die stoof.  Agter die huis was die koeler met sy blou skottels dikmelk en kuip soutvleis.  Sondagmiddae het die kleintjies met doloshuise op die koelerdak gespeel, spring dan daarvandaan tot op die dak van die huis en gly weer terug.  Die meisiekinders het in die huis en later beurtelings by Dina, Hennie se ma wat die laaste sewe jaar van haar lewe ook by hulle gebly het, geslaap.  Die ou eetkamer was ‘n geliefde kuierplek met Hennie se verjaarsdag en Kersfees, wanneer al die kinders op sluit huistoe moes kom.  Saans teen slaaptyd het ouma vir oulaas vir oupa nuusgebeure uit die Landstem voorgelees. (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)


In 1927 is die eerste boorgat in Pofadder gesink;  voorheen het alle huishoudelike water uit putte gekom.  Die von Wiellighs s’n was 9m diep.   (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)  Die Sinode van 1928 het toegestem tot verandering van die amptelike naam van die gemeente Namies na die van Pofadder.  (http://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/12563/002_p1-49.pdf?sequence=2)
Pofadder is egter eers in 1936 as dorp geproklameer en in 1937 tot dorpsbestuurgebied verklaar.  Die naam H.J. von Wielligh verskyn herhaaldelik in die ou notules van die dorpsbestuur aangesien hy lank as voorsitter gedien het.  (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)


In 1936 word die nuwe winkel op die hoek, oorkant die woonhuis gebou.  Dit was ‘n indrukwekkende toevoeging tot die dorp.  Heelparty inwoners het hul koppe geskud oor die groot winkel vir so ‘n klein dorpie.  Toe ene John Smit vir Hennie vra of hulle ooit so ‘n grote gebou sal kan betaal, het hy glo net gelag en gesê:  Ek bou net nou eers, julle het hom al lankal betaal.  Die gebou het ook ‘n aantal nagmaalkamers gehad, (soos wat ook agter die ou huis bestaan het).  Die verhuring van nagmaalkamers aan plaasgesinne in die distrik was ‘n jarelange gebruik.  (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)

Voortrekkerstraat met die von Wielligh-huis, winkel en Commercial Hotel. (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)

Die winkel hou baie herinneringe vir die Von Wiellighs in.  Almal moes op een of ander tyd hier help, al was dit net om rosyne, tee of suiker uit groot kratte in kardoessakkies af te maak en te weeg, klante te help van agter die lang toonbanke of in die showroom of met voorraadopname.  Die eerste roomysmasjien in Pofadder was in die winkel.   Voor die winkel het Pofadder se eerste petrolpomp gestaan wat die kinders ook moes baasraak.  Die lewe was nog veilig.  Die pompslinger is sommer agter die huis se stoepmuurtjie gebêre.  Die bedrag verskuldig vir die brandstof is sommer op die grond uitgewerk en daar moes onthou word om die klant se voertuig so ‘n biejtie te skud, sodat dit darem nog ‘n bietjie meer kon vat, soos Hennie hulle geleer het.  Elke paar maande het van die kinders ‘n beurt gekry om saam met Hennie Kaap toe te gaan vir aankope,  by veral die Jode van W.J. Jaggers.  Die rit het twee dae geduur.  Eers tot op Van Rhynsdorp, waar oorgeslaap was en dan tot in die Kaap, waar hulle in die Carlton Hotel op die foreshore tuisgegaan het.  Die kinders wat moes tuisbly, het in spanning gewag op geskenke uit die Kaap.  Vanuit die winkel het Hennie sy sakeryk opgebou.  Vanuit die klipwinkel het Hennie vir 23 jaar besigheid gedoen en dit twee maande voor sy dood aan Attie en Boeta verkoop. Hy het ‘n aandeel in die ontstaan van bykans elke besigheid op Pofadder gehad.  (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)


Briefhoof wat die winkel gebruik het voor Hennie se dood.  (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)

In 1938 bou hy die Pofadder Hotel, toe die Commercial Hotel genoem, iets wat hom goed te pas sou kom.  Dit was voor die tyd toe telefone volop was.  Besigheid is meestal met reisigers gedoen en so kon hy ook in hul oornagbehoeftes voorsien.  In die jaar wat die hotel gebou is, Pofadder ook besoek deur die ossewa-gedenktrek.  Op 8 Oktober het man en muis langs die strate kom staan om die aankoms van ‘n perdekommando van 110 ruiters en ‘n ossewa, die Johanna van der Merwe (vernoem na een van net drie oorlewendes van die Bloukrans-slagting) gade te slaan.  Hennie, voorsiter van die dorpsbestuurraad, moes self die riem neem en die osse die dorp inlei.  Op daardie dag is die eerste straat op Pofadder vernoem – Voortrekkerstraat.  Die klein Voortrekkermonumentjie aan die bopunt van Voortrekkerstraat is op daardie dag onthul.  ‘n Brandkluisie wat ‘n teenwoordigheidsregister met boodskappe bevat, is in die monument ingemessel.  Hierdie tydkapsule sal weer in 2038, 100 jaar nadat dit gesluit is, oopgemaak word.  (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)


Die Von Wiellighs by Hennie en Alida voor hulle huis

Die gebou wat die Pofadder Kafee gehuisves het, is ook deur Hennie gebou met die oog op ‘n slaghuis.  Toe ‘n slaghuislisensie later geweier is, het hy die kafee begin, waar meer as een von Wielligh kind ‘n eerste leerskool in besigheid sou loop.  Die klein geboutjie langs die kafee, waar die von Wiellighs se beeskraal altyd was (in die hoofstraat) en vir jare die landdroskantoor gehuisves het, is ook deur Hennie gebou.  Hy het inderdaad die hele twee straatblokke vanaf Truterstraat bo tot onder in Kerkstraat besit. Hennie het verskeie woonhuise opgerig,  o.a. Anna se huis, die een net langsaan, asook die twee huise langs die poskantoor.  Hy het ook Boeta en sy vrou suster Keyter  se huis (h/v VonWielligh-en Nuwestraat) gebou en die ou deel van Frikkie se huis,  wat as woonhuis en kafee vir die suster van Lottie Kamfer, wat vir jare ‘n klerk in die winkel was, gedien het.  (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)

Hennie het ook drie plase in die distrik gehad – Neelsevlei Ystervarkvlei en Swartbeesvlei (lg. het hy reeds in sy leeftyd aan Boeta gegee) – waar hy met karakoele en Afrikanerbeeste geboer het.  Hy het die boerdery aan voormanne oorgelaat en daar word vertel dat iemand by geleentheid vir hom gesê het dat ‘n voorman van sy pelse steel, waarop hy net geantwoord het dat die ou darem so steel dat daar vir hom ook nog oor was.  (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)

Buiten vir sy transportrybesigheid na Bitterfonteinstasie, het  Hennie ook ‘n transportbesigheid gehad, wat handelsware vanaf Port Nolloth na die arbeidskolonie op Kakamas se winkels vervoer het. (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)

Hennie was vir lank die enigste person by wie die inwoners van Pofadder moes uitpasseer.  Hy het hulle glo straat-af laat ry tot  by die Voortrekkermonument, terwyl hy vanaf die winkelstoep toegekyk het, waarna tant Lottie die suksesvolle kandidaat se lisensie moes uitskryf.  Dit is hier waar hy vir Gertjie Niemoller vertel het, nadat hy mevrou (ds) Eksteen se lisensie uitgereik het da thy op daardie dag “darem ‘n baie ombewame drywer uitgepass het” en vir ‘n bekende inwoner van die dorp gemaan het, alhoewel Hennie vir sy vrou ‘n lisensie uitgereik het, hy haar maar nie in Springbok of Kakamas moes laat bestuur nie. (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)


Gys (links) en Hennie kuier bymekaar, die Sondag voordat Gys met die vliegtuig verongeluk het.

In 1958 was daar 130 windpompe in Pofadder.  Drinkwater, wat gepomp is vanuit die laagte van die huidige slagpale, moes uit die goewermentsdam agter die munisipale geboue gaan haal word.  In die Kleurlingbegraafplaas buite Blyvooruitzicht is die graf van Outa Piet.  Na die besigheid op Keimoes gestaak is, het hy Pofadder toe gekom, waar hy vir dekades vir die von Wiellighs om die huis gehelp het.  Hy het in ‘n vertrek agter die huis gewoon en het glo net van Alida opdragte aanvaar, nie eens van Hennie nie.  (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)


Die von Wielligh-kinders voor die huis.


EGGSA
Pofadder main cemetery

‘n Jaar na Hennie se dood in 1959 het Alida na Bellville verhuis.  Die huis is verkoop aan Gertjie Niemoller en later aan Kosie Nel, wat dit gesloop het.   Outa Piet het saam met Alida Bellville toe getrek tot 3 jaar voor sy dood op 3 Maart 1969.  By sy terugkeer na Pofadder is hy deur die von Wiellighs wat nog hier was, versorg. (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)


Inskrywings in die Nederlandse Bybel wat Alida by haar moeder geërf het, met die inskrywings van die Von Wielligh-kinders se geboortes.

Alida sterf op 22 September 1977 en is op Pofadder begrawe.


EGGSA
Pofadder main cemetery

In 1999, 80 jaar na Hennie hom op Pofadder kom vestig het, het Hennie en Alida se kinders, skoonkinders, klein-en agterkleinkinders op die dorp bymekaargekom vir ‘n familiefees.  Van die 11 kinders het Frikkie, Anna en Elna steeds op Pofadder en almal in Von Wiellighstraat gewoon.  Selfs toe nog het die nuwe generasie inwoners van die dorp vir Hennie en Alida geken.  Nie net uit alles wat hulle hier tot stand gebring het nie, maar veral uit die stories, eie aan elke klein dorpie.  (Pofadder en die Von Wiellighs 1919-1999)