i.2. Johannes Lodewicus VON WIELLIGH, geb. 15/12/1939

i.2.  Johannes Lodewicus (Von), geb. 15/12/1939, Pretoria x Maria Christina NN.

Johannes Lodewicus was die seun van Johannes Lodewickus von Wielligh 
en Maria Elizabeth le Roux.

Uit sy ma se sterfkennis van 1941:
NASIONALE ARGIEWE VAN SUID-AFRIKA

Werk by die WNNR en  word ‘n wêreldreisiger. Werk in Viëtnam, Hong Kong, VSA, Suid- Amerika en bedryf tans ‘n ingenieurs-werkwinkel in Costa Rica.

Hier in Sentraal-America is familiebande baie belangrik - om eer te bring aan jou ouers, en liefde en respek vir die oues van dae te betoon.  Hier in Sentraal-Amerika word die pa en die ma se name oorgedra. Hier was my volledige naam, Johannes Lodewikus von Wielligh le Roux, te lank en lastig. Die hele wêreld het my net Von genoem. In Japan was dit Bon. Hier in Sentraal-America is La Von my noemnaam. My ID dokument meld ook Von. Ek moes my besigheid van my persoon onderskei, "Die Von" van “La Von”. Toe het die Internet begin. Die naam Lavon was reeds geneem en toe maak ek dit lavonn.com.  Pa wou weet waarom ek die “JL” weggegooi het.  Ek het die voorafgaande verduideliking aan hom gegee - en bygevoeg “om liewer nooit die JL naam in die skande te bring nie”.  Hy het toe gesê: "Dit is waar - elke man moet by sy naam staan en 'n woord hê - joune is Vonnie."  (http://www.lavonn.net/id60.html)

Vonnie

Herinneringe uit die webblad van Von von Wielligh:

Eintlik was dit Selina wat Vonnie grootgemaak het. Hy was 15 maande oud toe sy ma oorlede is en het 5 geword in Desember, toe die ander vrou haar opwagting gemaak het.  Sy het hom Afrikaans geleer – sy kon baie goed Afrikaans praat – en selfs die regte uitspraak. Vonnie het sy moedertaal uit die mond van 'n swart vrou geleer. 'n Beter aia pleegma was daar nie te vinde nie.

Dit was die huis op goedehoop.

Selina kon die lekkerste pap maak en Vonnie het op krummelpap en bokmelk grootgeword, alhoewel hy allergies was vir Petrus se koeimelk, en vetterige kos hom ‘n goor maag gegee het.  Sy het nooit toegelaat dat ek huil nie, want dit was 'n skande. As ek begin kerm het, het ek aandag gekry - altyd liefdevol met oneindige geduld.  Sy sou saggies neurie  en net om haar stem te hoor, was genoeg.  Ek dink tant Sannie het dit so beplan, of dalk was dit Babsie my ma, voor haar sterwe. Die belangrikste jare in die opvoeding van kinders is die eerste vyf jaar. Dit is wanneer hul instinktiewe persoonlikheid vorm.

Ek was ´n vreeslike skaam outjie omdat my swart ma my so geleer het. Dit was beter om uit die oog te bly. As jy verkeerde aandag trek, moet jy moeilikheid verwag.  Aia het my geleer: 

"Moenie na mense staar nie." Jy behoort hul blik in herkenning te ontmoet en dan beskeie grond toe te kyk om konfrontasie te vermy.  Mens is net bang vir dinge wat hy nie ken nie. Insig verwyder die vrees.   Kyk voor jy sit en wees altyd bedagsaam,  en wees altyd baie wakker vir wat om jou aangaan altyd gereed.”

Dit was sy eerste ondervindinge – “om die natuur van dinge te verstaan en insig te soek” – en dit het ‘n lewenstoewyding geword.  Vonnie het grootgeword en niks gevrees nie, want daar was twee persone wat hom in sy kleintyd nooit uit die oog verloor het nie – al het hy in die hoë grasse of mielielande verdwyn – ‘n fluit of ‘n roep het altyd rigting aangedui.

As daar gesê word: "Hy praat snaakse Afrikaans"  is dit omdat dit die moedertaal is wat die aia hom geleer het; die beste wat sy kon. 'n Ander belangrike feit is dat mens nooit jou moedertaal vergeet nie, want dit is die taal wat mens jou lewe lank gebruik om in te dink, en mee te redeneer en te defineer. Dit is die inhoud van die woorde wat mening gee.  Die binnestem is jou gewete wat in jou moedertaal tot jou spreek.

En ek hoop my familie sal my vergeef as ek sê:

 “ ‘n Swart vrou het my  grootgemaak en my my moedertaal geleer.” 
En laat dit so geskryf staan, dit is die taal wat ek onthou en nou hier skryf.
Die ou gesegde omtrent "the hand that rocks the cradle” is waar.
(Na vyf en sewentig jaar - van uit Sentraal-Amerika.)

Ouma het gewaarsku “Die mense (Marie) praat van die wit kind wat saam met die werkvolk woon.”En so was die wet vanaf daardie oomblik: “Die stad waar die swart volk woon is verbode.”  "Yebo Nonna" sou die aia antwoord. Dit was die begin van apartheid in my lewe.

(Wanneer “JL” met die doodgeryde wilde hase by die huis gekom het is) die wit haasstertjie dan afgesny. Dit was vir Vonnie bedoel.  Oomblikke later sou die kat dit egter uit my hand gryp om te verslind en grom as ek naderkom. Oupa het gefluister:  “Versigtig, hy dink jy is ‘n kat”.  En snaaks genoeg, die kat het my en die skoothondjie Tiekie oral rondgevolg en gespeel. So het die koei my amper een dag geskraap en Oupa het gefluister: “ Sy dink jy is ‘n kat, jong.”  Die verandering na ‘n katpersoonlikheid het my vreeslik beïndruk. Ek vertoon egter baie kat-eienskappe. Ons is alleenlopers – soek hoë plekke, vermy mense, is onafhanklik, ongesiend, vreesloos en rats  – en word nukkerig en befoeterd met die ouderdom.

Saterdag was baddag, en die groot seeppot vol water is warm gemaak. Almal sou bad en ek was altyd die laaste. Die water het sulke skiwwe opgehad wat bo-op dryf, want dit was harde water wat nie skuim nie.

Maandag was wasdag. Groot bondels klere is in die linnelakens toegerol.  Ouma het Emma en Selina soms vergelyk met "Naomi en Rut: “Hulle werk altyd saam, en een van hulle kom van 'n ander land."  Ek word geabba, en hulle het mekaar gehelp om die bondels op die kop te laai. Ek het opgestaan in die rugslinger om oor die aia se skouer te loer. Ons sou met die voetpaadjie afsit spruit toe - die paadjie wat nooit ophou nie. Uiteindelik het ons by die sandsteen-klipbank aangekom. In die klip by die waterwal was ‘n holte wat sy met die skottel gevul het. Vonnie kon heeldag in die water speel, tot sy vingers se vel begin kreukel het. Soms as hulle die klere so teen die klip geslaan het, sou ‘n groot seepborrel ontstaan. Die wag vir die borrel om te bars en ‘n druppel te vorm wat op die grond val het oneindig gevoel. Hulle het met die klere en linnelakens gestoei. Elkeen het ‘n kant gegryp en hulle het gedraai, oopgemaak en weer gedraai tot die water skoon afloop. Wanneer hulle die nat lakens oopmaak en skud het dit soos ‘n donderslag geklink. So uitgestrek is die linne dan op die rooigras in die son uitgelê om droog te word. Dit was nie eers nodig om die lakens te stryk nie.

Ma San – die ander vrou, was mos in eerste minister Strydom se kombuis betrokke gewees. Ek was 5jr oud. Met haar eerste besoek was ek so skaam dat ek onder die tafel weggekruip het tot almal weg was. Van kleins af was ek ‘n baie skaam outjie. Ek kon dit nie verdra om vreemde oë te ontmoet nie, net soos die aia. Jare later het ek en Pa baie gepraat oor oë, die vensters van die siel.

Von jy moet die bome so plant, nee Pa ek weet hoe, ja maar onthou op ons oudag kan jy perskes pluk en vir jou kinders en my kleinkinders sé  “Ek het hierdie boord so perfek en reguit geplant.” 


Op 'n more kom Pa en Ma van n naweek uitstappie na Jan Kempdorp op Goede hoop aan (glo dit as jy wil hy het later ook tyd afgevat). Hy haal n sakkie grond uit die motor en gooi dit triomfantlik uit op die grasperk voor die motorhuis. Dit is n monster van ons plaas in Jan Kempdorp. Heroman moes die plaas koop met n Landboukrediet lening. Alles moes nou na dorre Jan Kemp gaan.   (http://www.lavonn.net)


Bethal laerskool toe Von in Std. I was (Foto:  Lavon von Wielligh)