Gerrit Stephanus was die seun van Johannes Willem Nel en Anna Sophia Wilhelmina Berg.
Gert en Lenie Nel
Die ontwikkeling by die Schuitdrif was nie sonder probleme nie. Suid van die rivier was 'n aantal rowerbendes wat die boere soms lastig geval het, maar die grootste probleem was kaptein Jacob Afrikaner wat met sy volgelinge noord van die drif op Jerusalem gewoon het. Hulle het van tyd tot tyd die rivier oorgesteek en strooptogte in die kolonie onderneem. Op 1 Maart 1879 het hulle net Suid van die Skuitdrif 250 beeste en 'n paar honderd skape van die handelaars op Nous gesteel. Die plaas waarop die Skuitdrif geleë is en vandag as Schuitdrift West bekend staan, is in 1898 aan Johannes Schultz vir een jaar teen 18 pond verhuur. Op hierdie stadium was Schuitdrift nog nie verdeel as Schuitdrift Oos en Schuitdrift West nie, maar was dit een groot plaas. Daarna het D.J.A. Brand die plaas tot 1904 teen 'n huur van 15 pond per jaar gehuur.
Gerrit Stephanus Nel is in 1893 gebore. Hy het
op eers op Marchand skoolgegaan en het nadat sy ouers na Nous verhuis het, op Nous skoolgegaan tot st. 5. Nadat
hy sy skoolopleiding voltooi het, het hy saam met sy pa geboer en was hy ook
verantwoordelik vir die trek met die vee, wanneer die veld skaars was. Ten spyte van sy lae skoling het hy 'n geweldige algemene kennis gehad en hy het hom veral toegelê op wetgewing ten opsigte van die boerdery. Hy het baie gelees en hom op hierdie manier verryk.
Tot ongeveer 1911 was die grootste gedeelte van die Boesmanland nog kroongrond. In 1912 kon boere plase teen lae pryse by die staat koop. Die staat het deur middel van die Grondbewaringsordonnansie boere aangemoedig om hul plase te omhein. Hiervoor is gunstige lenings aangebied. Baie boere het dit gedoen.
In 1919 trou Gerrit Stephanus met Magdalena Maria Strauss. Hy was die oudste seun van die Nels en sy die oudste dogter van Jaap Strauss. Hy en sy vrou het vir agt jaar op Sout Oup gaan boer. Sout Oup het aanvanklik aan 'n ene Liebenberg
behoort, maar aangesien dit deel was van die oorspronklike Nous, het Johannes Willem Nel dit
gekoop. Gert was egter nie gelukkig op
Sout Oup nie en het teruggetrek Nous-Wes toe, waar hy vir sy gesin 'n woonhuis
opgerig het. Hulle het 7 kinders gehad,
naamlik Jan, Koos (Babs), Tinkie, Frikkie, Anna en Willa.
Met die oog op die moontlikheid dat die plaas Schuitdrift-west verkoop mag word, het die Unie-Regering in 1922 die Skuitdrif en die polisiestasie, altesame 54 morge uit die plaas laat opmeet en dit as "Schuitdrift Police Reserve, no. 4" laat registreer.
In 1926 het Gerrit Stephanus Nel aansoek gedoen het om die plaas Schuitdrift-west as plaas te bekom. Vir die doel het hy Kaapstad toe gegaan om die Minister van Lande te sien en sy saak te stel. Die hoewe Schuitdrift West, groot 7290 is in 1926 onder huurkontrak toegeken. Dirk Pretorius (Klasie Pretorius se pa) het terselfdertyd aansoek gedoen om die plaas Schuitdrift-oos te bekom. Die plaas is ook aan hom toegeken. Op daardie stadium was die gronde heeltemal onontwikkel en vir die nuwe eienaars sou dit beteken dat hulle water, sowel as kampe moes aanbring.
Schuitdrift op die kaart was toe reeds van Noord na Suid verdeel. Die wadrif, wat gebruik was as die Oranje se water betreklik laag was, was op die plaas Schuitdrift-oos geleë en die Skuitdrif waar van die Skuit gebruik gemaak was, as die rivier meer water gehad het, was op die plaas Schuitdrift-wes. Die afstand tussen die driwwe te Schuitdrift-wes en Schuitdrift oos is ongeveer 2 - 2.5 km.
Vanaf 1936 het Gert Nel en sy gesin vir twee jaar by Jaap se bakke (klipgate) gewoon, aangesien daar geen water en geen omheining om die plaas was nie. Hulle was aan groot ontberinge blootgestel. Gedurende hierdie tyd het hy 'n put gegrawe (daar waar sy kleinseun Fanus se huis vandag staan), waar hy swak water op 60 voet gekry het. Hy het 'n tonnel van 22 voet gemaak op soek na sterker water. Intussen het hy 'n viervertrekhuis gebou, waarna die gesin van Jaap se bakke af na Schuitdrift-wes getrek het.
Die permitstelsel het die trekkery met vee 'n nekslag toegedien. Sedert 1937 moes 'n inspekteur verlof tot trek gee, nadat hy skriftelik die versekering gekry het dat die boer vir minstens dertig dae weiveld vir sy vee gekry het. In die permit is die pad ook aangedui waarlangs die boer mog trek. Beter boerderymetodes en die verbetering van watervoorsiening het die noodsaaklikheid van trek verminder.
In 1940 het Gert se moeder nog op Nous gebly en was sy vader al dood. Op 19 Febr 1940 is die plaas in die aktekantoor as 'n regeringsplaas onder die naam Schuitdrift-West geregistreer en in 1941 is die plaas Schuitdrift Wes op G.S. Nel se naam geregistreer. In 1942 het Gert Nel vir Yas gekoop wat altesame 28500 morg groot is.
Op
19 Mei 1951, volgens 'n brief van die Kommissaris van Polisie van Pretoria, het G.S. Nel aansoek gedoen om die Schuitdrift Police Reserve te koop. Hy het aangevoer dat die stukkie grond hom
strem in die beplanning om sy plaas te verbeter en daar dit sy enigste toegang
tot die Oranjerivier is en sy ander waters ontoereikend was, daardie suiping
gebiedend noodsaaklik was. Hy het vervolg dat
dit onwaarskynlik is dat daar weer van die polisiereserwe gebruik gemaak sal
word, aangesien die heen en weer kommunikasie tussen Suidwes-Afrika en die Unie, wat voor 1914 oor Schuitdrift West bestaan het, nou verskuif is na Onseepkans.
In
1954 is die polisie-reservaat aan die eienaar van Schuitdrift West verkoop. Na
die voltooiing van die spoorlyn tussen Upington en Karasburg het die verkeer
oor die Skuitdrif vinnig afgeneem.
Goedere uit Kenhardt se wêreld wat vir Suidwes bedoel was, is nou oor
Neilersdrif by Keimoes na die spoorweghalte by Lutzputs vervoer, i.p.v. oor die
Skuitdrif. Tans word daar nie meer van
die deurgange gebruik gemaak nie. Brue
by Kakamas en Onseepkans maak dit onnodig.
Die polisiestasie is dan ook gesluit.
Gert Nel was so taai soos die omgewing waarin hy hom bevind het. Daar word van hom vertel dat hy dit ook nie kon verdra, as mense om hom oor hul omstandighede gekla het nie. Op 18 jarige ouderdom het 'n klip in een van sy bene gesteek en daar was bevind dat sy been afgesit moes word. Hy het egter net geweier. Met die hulp van Chrissie Bobbejee (Viviers) van Kakamas en haar kanaalwater het hy so herstel dat hy 'n normale lewe kon lei. Laterjare het 'n muil sy ander been gebreek, maar nadat hy met die hulp van Jannie von Wielligh se vliegtuig by hulp gekom het, het hy ook daarvan herstel. Op gevorderde ouderdom het 'n perd agteroor op hom geval, wat veroorsaak het dat sy bekken gebreek het, maar ook hierdie insident kon hom nie onderkry nie. Op die ouderdom van 81 jaar het hy nog perdgery.
Gert Nel en sy seuns het saam geboer tot 1981. In 1981 het Gert en Lenie Nel na Kakamas se ouetehuis toe getrek, waar Gert Nel op die ouderdom van 95 jaar oorlede is. Na sy dood is die plase Schuitdrift-wes en Yas gesamentlik aan sy seuns Tinkie en Frikkie Nel nagelaat.
EGGSAGert Nel en sy seuns het saam geboer tot 1981. In 1981 het Gert en Lenie Nel na Kakamas se ouetehuis toe getrek, waar Gert Nel op die ouderdom van 95 jaar oorlede is. Na sy dood is die plase Schuitdrift-wes en Yas gesamentlik aan sy seuns Tinkie en Frikkie Nel nagelaat.
Augrabies cemetery