Hendrika Christina Wihelmina was die dogter van Andries Adriaan van der Westhuizen en Hester Cornelia Laufs.
Hennie van der Westhuizen is op 16 Maart 1928 in Kakamas (Schroder) gebore. Sy is haar ouers se tweede oudste kind.
Hennie as baba
Sy het haar kinderdae op Schroder as verskriklik lekker beskryf. Hulle het nie geld gehad nie, maar Andries het vir die kinders speel-panne en -potte van blikke gemaak. Sy het soms gewens om ook van die speelgoed te hê, wat van die ander mense se kinders gekry het. Selluloiedpoppe was die orde van die dag. Andries het eenkeer vir hulle poppe gekoop. Die poppe het lap lywe gehad en die arms en koppe was hard. Die tweeling van Andries se broer Piet het die poppe onthoof, sodat die semelinhoud uitgeval het. Dit het haar vreeslik ontstel.
Links: Hennie en Gerrie. Op die landbouerf (wingerd en lusern) het die kinders
bokke gemelk, sodat die skuimbolle gestaan het. Dit was eers wanneer 'n kind die skuimbolle kon laat staan, dat sy as 'n vaardige melker gereken was.
Hennie se kinderjare op Schroder het nie net uit speel
bestaan nie. Sy was van kleins af nie
baie lief vir huiswerk doen nie (die stof het haar neus laat toetrek) en het
eerder haar pa op die lande gehelp. Haar
werk was om groot klippe uit die land te gooi, sodat Andries die grond kon
bewerk. Sy het ook tougelei voor die
trekdiere.
Sy het op Bassonsdrif (Schroder) skoolgegaan tot st 1. Hennie het onthou hoe sy altyd drie myl, van Cillie af, skooltoe gestap het. Dit was nie regtig so ver nie, maar dit het vir haar so gevoel, omdat sy so klein was. Die kinders het maar meestal gestap waar hulle wou wees, want daar was nie altyd vervoer nie. Hulle het ook nie altyd skoene gehad nie en “dapper en stapper” is
kaalvoet aangedurf in die winterkoue en in die skroeiende somerhitte. Op daardie stadium was daar nie sprake van
skooldrag nie.
Hetta het altyd vir die
kinders kos in kardoessakkies ingepak skooltoe. In die kardoessakkie was of van die aand se kos wat oor was of anders brood. Hennie het eenkeer patats skooltoe
gevat. Daar was ‘n meisiekind (wat groter
as sy was), wat die patat gegryp het, net toe sy dit wou eet. Sy het hieroor baie verontreg gevoel.
Een van Hennie se maats het naby die skool gebly. Daar was ‘n kweperboom en die kinders het die
kwepers gekap tot die sous uitkom. Die
kwepers was skoon tot teen die pit, omdat rooibye vollop was. Dit was vir die kinders die heerlikste
speelplek. Hulle het “Tarzan” gespeel,
al was Tarzan nog nie bekend nie. Hetta
was altyd baie kwaad as hulle laat van die skool af gekom het, omdat
hulle in die takke rondgeswaai het. Sy
was bang dat die kinders te naby aan die rooibykoek sou gaan en dat as hulle
gesteek word, hulle nie vir 14 dae skool toe sou kon gaan nie. Hennie was reeds baie allergies vir bye. Een van Hennie se maats het verby ‘n byekorf met kwaai bye
gestap, wat op haar toegesak het en sy was dood nog voor die dokter daar was.
Hennie het onthou hoe baie angels op haar lyfie was.
Die kinders het graag Hokkie en Kennetjie op Schroder
gespeel. Hennie het onthou van ‘n seun “wat
nie lekker by die kop was nie.” Hy het
‘n wit kennetjie gehad. Eendag het hy ‘n
meisie so met die stok getref, dat die ander kinders gedink het dat sy dood
was, want sy was uit soos ‘n kers. By die skool is ook gereeld konserte gehou en die geldjies is benut vir hulpmiddels en boeke wat verder vir die verryking van die leerlinge gebruik is. In 1938 was die leerlingtal aan die primere skool Schroder, 128 en die personeellede, 5.
In die vroeë veertigerjare is daar deur die Departement van Onderwys ‘n voedingskema ingestel. Die kinders het daagliks ‘n stukkie te ete ontvang met die tweede pouse. Dit het ingesluit droë en vars vrugte, grondbone, kaas en die afgryslik-onsmaaklike visolie. Vir laasgenoemde het menige leerlinge wye draaie geloop om die noodsaaklikheid vry te spring. Met die voedingskema het die kinders o.a. melk, groot stukke heerlike sterk kaas en soms ‘n vrug (bv. appels) op Vrydae by die skool gekry. Die kaas was staats gesubsidieer. Party kinders het nie van die kaas gehou nie en het dit soos ‘n voetbal rondgeskop.
Op 15 Oktober 1938 het die Johanna van der Merwe-wa op Kakamas aangekom as deel van die Simboliese Ossewatrek. Die koloniste was diep geraak deur die seremonie en het toe besluit om ‘n gedenknaald van rooskwarts voor die kerk te bou.
Aan die einde van haar St.
1 jaar het Hennie se ouers na ‘n plaas op Neus getrek. Naby hulle huis op Neus was daar groot rotse
met ‘n skeur in. Hier het die
kinders groot muise gevang deur dit van die een kant van die skeur af met ‘n
stok te steek, terwyl die ander kind aan die ander kant van die skeur sit met ‘n
papiersak. Wanneer die muise gevang is,
is hulle huis toe geneem. Eenkeer het
hulle vir Hetta gevra: “Ma, het ma al ‘n
slang gesien met kop en pootjies.” Dit
was ‘n slang wat ‘n muis van agter af ingesluk het. Hetta was hewig ontsteld dat haar kinders
besig was om die slang te vang.
Op Neus het die kinders graag namiddae gaan stap. Soms het hulle die eilande ingestap as dit koel die oggend is en gespeel tot dit laat is en sodoende uitgestap as dit alreeds warm was. Dan is die broek (panty) om die een voet en die hoed om die ander voet vasgemaak, sodat die sand nie hulle voete moes brand nie. Op die kere wat skoene wel saam was, was dit belangrik om nie die skoene te verloor
nie, "anders was ‘n pak slae met pa se bruin belt, jou voorland". In die geval waar die skoene wel verloor was, is dit gesoek, al
was dit al donker.
In die laat dertigerjare het Hennie saam met
haar ouers na Neilersdrif verhuis. Hier
het sy die res van haar laerskoolopvoeding ontvang.
Vakansietye is hulle soms na die Ais-ais warmwaterbronne vir
vakansie. In daardie jare het baie mense
daarheen gegaan. In die aande, as mense
bymekaargekom het, is daar konsert gehou.
Andries het met so ‘n geleentheid ‘n doek gevat en ‘n geskaafde stuk
stomp (om soos ‘n tand te lyk) om een van die ander deelnemers se kop
vasgemaak. In die toneelstuk het dokter
Andries die tand kom trek tot groot vermaak van die kinders.
By een rare geleentheid, in ongeveer 1940 het Andries en
Hester by die Schultze op Boegoeberg gaan kuier. Hennie was ook saam en sy en Danie Schultze
moes hulle self die namiddag buite besig hou.
Met ‘n paar vensterbankteëls het hulle toe ‘n “kleinhuisie” gebou,
kompleet met ‘n sifdraadeur. Hennie het
toe vir Danie aangesê om vlieë te vang en binne te laat los, “want ‘n
kleinhuisie moet vlieë in hê”.
Op Neilersdrif het die kinders graag Ellie Rose
gespeel. Die seuns en meisies het in
pare in ‘n reguit ry gestaan (hand aan
hand). Voor in die ry het ‘n seun sonder
maat gestaan. Wanneer hy Ellie Rose
skree, los die agterste paartje hande en hardloop alkant van die ry vorentoe en
probeer om weer bymekaar uit te kom. Die
seun sonder maat probeer weer op sy beurt om die meisie vir hom te vang. Sou hy daarin slaag, neem hy en die meisie
hulle plek heel voor in die ry in en die seun sonder maat skree dan weer Ellie
Rose.
ʼn Vragmotor met ʼn wit seilkap, alombekend as die ‘skoollorrie’ het die kinders na die onderskeie skole vervoer. Die vragmotor se seilkap het weerskante ʼn venstertjie gehad. Daar was ʼn lang bank teen elke kant met ʼn plat bank in die middel, waar kinders rug aan rug moes sit. Kleiner kinders moes tussen die rye staan en maar vashou. Met die wat die kinders te veel geraak het vir die ‘skoollorrie’ het een van die nedersetters, F.A.W. du Plessis, die hoërskoolkinders van en na die padaansluiting na Keimoes met sy muilwaentjie vervoer. Daar het Van Schalkwyk se bus hulle weer opgelaai. (Visser, C.G.: Van armoedeverligtingsprojek tot volhoubare landbougemeenskap: die vestiging en ontwikkeling van die Skanskopeiland-besproeiingsnedersetting. Verhandeling. Mei 2015)
Die gebruik op hoërskool was, om een keer ‘n week volkspele by die skool te hou. Hennie was ook ‘n lid van die Voortrekkers op Keimoes.
Hansie, Gerrie, Hennie, Hester en voor die tweeling Danie en Hannatjie
Hennie van der Westhuizen het vir Hennie von Wielligh
op Keimoes leer ken. Hy was in die Paarl
op skool en het net vakansietye huistoe gekom.
Sy wou egter niks met hom te doen gehad het nie en toe sy op haar
sestiende verjaarsdag ‘n seëlringetjie met haar naam op kry, het die ander
kinders gesê dat Hennie von Wielligh dit vir haar gegee het. Sy was glad nie beindruk hiermee nie en het
gesê dat sy niks met hom te doen sal wil hê nie, al was hy ook die allerlaaste
man op aarde. As jong vrou het sy egter
anders begin dink.
Hennie het ook netbal gespeel
Namate die kinders groter geword het, was daar
danspartye in Andries se stoor in Neilersdrift, op die maat van die
grammafoonmusiek gehou. (Hennie kon van
kleins af al dans, aangesien Andries al op Schroder (waar dans verbode was) die
gordyne toegetrek het en die kinders al om die eetkamertafel leer dans
het.) By hierdie danspartye was daar
geen alchohol nie, net aanmaakkoeldrank.
Die partytjies het nie laat aangehou nie. Dit het vroeg begin en vroeg opgehou. Hennie von Wielligh het alte graag na hierdie
danspartye toe gekom, veral aangesien hy en Hennie so lekker saamgedans het.
In daardie jare is daar nie matriekafskeid gehou soos
wat ons dit vandag ken nie. Die
matriekafskeid het die vorm van koek en tee aangeneem wat die leerlinge vir die
onderwysers gegee het. Die aand van die
matriekafskeid het die jong klomp partytjie gehou en lekker gedans.
As jong vrou het sy begin verpleeg en het haar indiensopleiding eers by die hospitaal op Upington, daarna
Hennie saam met haar mede-verpleegsters
Poskantoorgebou op Neilersdrift.
Foto: Johan Coetzee
Later toe daar ‘n nuwe ontvangsdame aangestel moes word in die Hotel was hulle al verloof en Gys het vir Hennie genader om uit te help.