f.7. Willem Gabriël NEL, geb. c 1813, ged. 03/11/1813

f.7.  Willem Gabriël, geb. 1813,  ged. 03/11/1813, Somerset Oos, oorl. 04/11/1902 x 07/04/1834, Somerset-Oos met Martha Dorothea Cornelia BOTHA, geb. 27/10/1817, ged. 23/11/1817, George, d.v. Christoffel Jacobus Lodewikus Botha en Martha Dorothea Terblanche xx 09/07/1855, Pietermaritzburg met Maria Catharina VAN ROOYEN, geb. 06/06/1834, d.v. Lucas Martinus van Rooyen en Aletta Johanna Potgieter.

Willem Gabriël was die seun van Louis Jacobus Nel en Johanna Margaretha Botha.

Willem Gabriël Nel, het die eerste lewenslig aanskou in die distrik Somerset-Oos, op 3 Oktober 1813. Sy vader, Louis Jacobus Nel, het aanvanklik gewoon in die Cango—soos Oudtshoorn destyds algemeen genoem is—en moet dáár sowel as later Somerset se veldkornet gewees het.  Sy moeder was Johanna Magaretha Botha, 'n oorgroottante van wyle genl. Louis Botha.  (Preller, Gustav:  Voortrekkermense)

 













(https://www.geni.com/people/Willem-Nel/6000000015393732093)

Laat ons nagaan hoe die oorlog na die groot skok van Buys se dood die Nels in die wyke Koonap en Oos-Rietrivier geraak het. 'n Jonger seun van Louis Jacobus, Willem Gabriël, het waarskynlik êrens tussen die Koonap en Katrivier gewoon.  Sy huis, met meubels en klere, is afgebrand.  Hy het in die aanval 100 skape, 8 beeste en drie perde verloor. Vermoedelik het hy, sy vrou en kindjie ook op Commandofontein 'n toevlug gevind. (http://reference.sabinet.co.za/webx/access/journal_archive/02590190/484.pdf)

(http://reference.sabinet.co.za/webx/access/journal_archive/02590190/484.pdf)

1837 - Benewens die familie Scheepers wat 'n paar gesinne sou insluit. kon die trek onder andere uit die volgende gesinne en individue bestaan het.

1.  Louis Jacobus Nel met sy vrou Johanna Margaretha Botha.
2. Johannes Petrus Nel, oudste seun, met sy vrou Susanna Maria Nel en ongeveer sewe kinders.
3. Philip Roedolph Nel, tweede seun. met sy vrou Anna Frederika Claasen en ongeveer vier kinders.
4. Cecilia Johanna Buys. oudste dogter. weduwee van S.B. Buys met ongeveer ses kinders.
5. Theunis Jacobus Nel, vierde seun (die derde seun was Marthinus Francois Nel, gedoop 16 Oktober 1808, is moontlik jonk oorlede) met sy vrou Maria Johanna ROUX en onbekende getal kinders.
6. Louis Jacobus jr., gebore op 28 Desember 1811, vyfde seun, met sy vrou HiIletje Leviena Helena Bester en hul twee kinders, Maria Petronella en Louisa Jacoba.
7. Willem Gabriël Nel, sesde seun, met sy vrou Maria Dorothea Botha en onbekende getal kinders.
8. Elizabeth Fredrika Nel, tweede dogter, en haar man Gert Cornelis Nel met twee kinders.
9. Jacobus Hercules Nel, sewende seun, vermoedelik in 1837 nog ongetroud.
10. Maria Susanna Nel, 3de dogter, vermoedelik in 1837 nog ongetroud.
11. Christoffel Jacobus Hercules, agste seun, 'n baba van twee jaar in 1837.
12. Cecilia Johanna Botha, tweede oudste suster van  Louis Jacobus, met haar man Theunis Jacobus Botha en minstens vyf kinders.  Die egpaar was die oorgrootouers van genl. Louis Botha.  Theunis Jacobus Botha en Louis Jacobus Nel was met mekaar se susters getroud.  Hulle was dus dubbele swaers.
13. Johannes Lodewicus van Deventer en sy vrou. Sy suster, Maria of Martha Petronella, was getroud met Louis Jacobus Nel, L.J. seun, 'n neefskind van Voortrekker L.J. Nel.
14. Louis Nel, Gabriel seun, en sy vrou Gesina Maria Beatrix Olivier, met minstens ses kinders.   (http://reference.sabinet.co.za/webx/access/journal_archive/02590190/484.pdf)

Wat plase betref het Philip Nel Nelsrus aan die Mlazi besit, terwyl Willem Gabriël vir Wilgespruit (naby die Mvoti) en Theunis Jacobus vir Blinkwater (digby "Bestershoek" en die Mvoti-rug) grond briewe ontvang het.  (http://reference.sabinet.co.za/webx/access/journal_archive/02590190/484.pdf)

Na die moord op Retief en sy geselskap op 6 Februarie 1838 het die Zoeloe­-impies die niksvermoedende Trekkerlaers in die Bo-Tugelavallei oorval en dood en vernietiging onder honderde Trekkers en hul bediendes gesaai.  Die trekkers het hulle in families en ander groepe verdeel om hul vee afsonderlik te hou en te laat wei.  So was daar geselskappies tot naby Colenso, aan Moordspruit en Bloukransrivier, 'n afstand van minstens 55 kilometer.   Oproep om hulp is tot Piet Uys en Hendrik Potgieter in die Vrystaat gerig.  Klaarblyklik het nie net die manskappe nie, maar die hele Uys-geselskap Natal toe getrek.  'n Modderlaer is by die boloop van die Bloukransrivier gemaak en 'n krygsraad gehou.  Die Voortrekkers het Piet Uys tot veldkommandant-generaal verkies.  Die gekommandeerde kommando, van 347 manskappe, het op 5 en 6 April in twee afsonderlike kolonne die laer verlaat.  Die kommando het die Tugela oorgesteek en op 9 April 'n groot Zoeloe-impi naby die Babanango-reeks gewaar.  Hulle het daarin geslaag om 'n paar Zoeloes te yang en die het verraai waar die Zoeloe-hoofimpi was — by Dingane se hoofstat uMgungundlovu.   Piet Uys het die kommando's reguit na die hoofstat gelei en halt geroep op die plato onder die Katazohoogte, vanwaar Dingane se stat sowat 6 km verder gesien kon word.  Hulle het langs 'n bergkloof afgekyk na 'n halfmaanvormige vallei waardeur die Incumbaanspruit gevloei het.  Aan die anderkant van die kloof het twee heuwels na weerskante van die kloof afgehel.  Op elk van hierdie heuwels was daar 'n Zoeloe-impi, terwyl 'n derde onder in die vallei stellings betrek het, in totaal ongeveer 7000 tot 8000 krygers. (Borman, Hans:  Familie Nel van Nelspruit, 1982)

Uys het Potgieter gevra om te kies watter impi hy wou aanval, die in die vallei of die op die heuwel.  Potgieter het die in die vallei gekies.  Piet het 40 manne onder bevel van sy broer Cobus geplaas en hulle aangesê om by die pakperde te bly en het die res van die kommando, onder bevel van komdt Koos (Grootvoet) Potgieter, gestuur om slag te lewer teen die Zoeloe-impi op die regterkantse heuwel.  Piet Uys het met 20 man in die rigting van die poort gery.  In drie regimente, een agter die ander, het die Zoeloes agter hul wit skilde gehurk gesit en die kommando ingewag.  Die kommando het tot 50 tree van die Zoeloes gery — so naby dat Gert Viljoen vir Koos Potgieter gevra het of hy van plan was dat hulle handgemeen met die Zoeloes moes raak.  Daarop het Potgieter halt geroep en met voorlaaiers in die hande uit die saals gegly.  Die Zoeloe-leier het opgespring en geskree dat hulle moes aanval, sodra die witman skiet.  Potgieter het Pieter Nel (-b1c3d1e4f1) beveel om die bevelvoerder te skiet.  Die linkerhandige Nel was bekend daarvoor dat hy sewe skote in 'n rivierwal geskiet het en slegs een koeëlgat gemaak het.  Nel het die Zoeloe neergevel en is dadelik opgevolg deur 'n sarsie van die res van die Trekkers.  Die eerste regiment is totaal verpletter, terwyl die tweede aansienlik uitgedun is en die derde regiment het opgespring en langs die anderkant van die heuwel afgeval.  Piet Uys en sy geselskap het die vlugtelinge tot in die kloof agtervolg. (Borman, Hans:  Familie Nel van Nelspruit, 1982)

Kort op die hakke van die Zoeloes wat op die vlug geslaan het vir die Uys-kommando, was twee Malan-broers, Johannes en Jacobus.  Piet het gemerk hoe die Zoeloes die Malans in 'n bosagtige kloof inlei en hoedat hulle toe skielik omspring om die twee broers of te sny.  "Die twee manne sal vermoor word," het Piet uitgeroep, "kom ons moet hulle help." So het Piet Uys, gevolg deur 15 vrywilligers, gery om die Malans te gaan help.  Onder die vrywilligers was Dirkie Uys, Dawid Malan, vader van die twee Malan-broers, Gerrit (Gert) Cornelis Nel (ab 1c3d4e1f3), Louis Jacobus Nel (ab1c3d1e4f6), Johannes Petrus (Pieter) Nel (ab1c3d1e4f1), Willem Gabriel Nel (ab1c3d1e4f7), Jan en Jacobus Moolman, Jan Landman, Jan de Jager, Jan Meyer, Jan Steenkamp, Carel Landman, Hans de Lange en ene Snyman.  Toe Uys en sy klein groepie die Malans nader, was die twee horings van die Zoeloe-halfmaan reeds feitlik gesluit.  Piet Uys het vooruit gery, die Malans bereik en hulle gewaarsku om dadelik om te draai. Die drie was op pad terug na die res van die groepie toe Piet sy perd in toom hou om die vuursteen van sy geweer skerp te maak.  Op daardie oomblik het die Zoeloes hul assegaaie begin gooi. Toe 'n assegaai horn in die kruis, links van die ruggraat tref, het Uys se liggaam in die saal geruk.  Hy het die hef vasgegryp, die assegaai uitgepluk en van hom weggesmyt. Die assegaai het een van Piet se are afgesny en het bloed uit die wond opgewel en spoedig is sy perd se agterstewe bedek.  (Borman, Hans:  Familie Nel van Nelspruit, 1982)
Uys het sy perd aangespoor en daarin geslaag om die ander klein groepie te bereik. Hy het so geweldig gebloei dat Willem Nel verkeerdelik uitgeroep het:  Kyk die geel perd is deur 'n assegaai getref; kyk na die bloed op sy agterste deel."   Bloed het uit Uys se rug, mond en neus gestroom.  Hy het flou geword, maar is gelawe en 450 meter aangehelp totdat hy weer flou geword het en van sy perd afgeval het.  Intussen het Willem Nel 'n berede Zoeloe geskiet en die perd aan een van die Malan-broers gegee.  Uys is weer op sy perd gehelp en het die groep voort gevlug met die Zoeloes kort op hul hakke.  Pieter Nel se perd het in 'n groot gat getrap en geval, opgespring en tussen die groep ingehardloop.  Willem Nel het Pieter se perd aan die teuels beet gekry, maar voordat hy Pieter kon bereik het 'n assegaai die vlugtende man tussen die blaaie getref en met uitgestrekte arms vooroor geval.  Kort hierna het die Zoeloes hom toegesak. Die groep het voort gevlug terwyl Piet Uys steeds meer in die saal begin swaai het.  Hulle is oor 'n klipperige donga en aan die voet van 'n koppie beland.  Die groep het in twee verdeel.  Willem Nel en Jan Landman het regsom gegaan en toe hulle aan die anderkant was, liet hulle ontdek dat 'n bergrug hulle van Piet Uys en sy groep geskei het.  Die Zoeloes het Piet Uys en sy groep op 'n bergrug ingewag, maar hulle het deur die impi gejaag en is sodoende verder uitmekaar gedryf.  Gert en Louis Nel is saam met Dawid Malan, die vader van die twee gesneuwelde broers, in 'n diep donga vasgekeer en gedood.  Willem Nel en Jan Landman is hoër op deur dieselfde rietbegroeide stroompie en moes ook hul weg deur die Zoeloes oopveg. Hulle was die laaste om by die kommando aan te sluit.  Die Vlugkommando — soos dit bekend geword het — het op 12 April 1838 na die laer teruggekeer.  (Borman, Hans:  Familie Nel van Nelspruit, 1982)


Willem Gabriël Nel het die gebeure van Italeni en Bloedrivier meegemaak en dit op skrif gestel.  Dit is onder die titel "Een Bladzijde uit de Geschiedenis van de Voortrekkers" gepubliseer.  Dit is privaat na sy dood uitgegee en het nooit wye verspreiding geniet nie aangesien dit vir sy direkte afstammelinge bedoel is.  Slegs enkele kleinkinders besit afskrifte van hierdie publikasie.  Volgens die Uys-familie is die verhaal van Piet en Dirkie Uys klaarblyklik deur Willem Gabriël Nel opgemaak om die agterblywende weduwee te troos.  Hy het op die plaas Wonderboom, distrik Umvoti, in Natal, gewoon.  (Borman, Hans:  Familie Nel van Nelspruit, 1982)

Op 1 Februarie 1875 word die kinders met hulle plase in Louis Jacobus se testament genoem.  Toe het Philip Rudolph op Spitskop, Theunis Jacobus op Onrust, Willem Gabriël op Wonderboom, Christoffel Jacobus Hercules op Waterval en Maria Susanna (getroud met ene Stadler) op Bergvliet geboer.  Die plaas Bergvliet was in die distrik Weenen geleë, terwyl al die ander onder die Afdeling van Umvoti geval het.  (http://reference.sabinet.co.za/webx/access/journal_archive/02590190/484.pdf)