Johannes was die seun van Johannes van der Westhuizen en Martha Magdalena van Wyk.
DG: Nicolaas Burgert van der Westhuizen; Petrus van der Westhuizen; Franciscus Hendricus van der Westhuizen.
Sy naam kom voor in hulle pa se sterfkennis van 1838.
Teen die
einde van die 18de eeu was daar net sewe gemeentes in die Kaapkolonie. Die
eerste rondgaande hof van 1811 het roerend verslag gedoen oor die toestande in
die afgeleë distrikte. Godsdiens en onderwys was in ’n toestand van verval,
maar dit was merkwaardig dat daar onder omstandighede nog soveel tekens van
beskawing was.
Veral om ’n
einde aan wetteloosheid te bring, het lord Charles Somerset op 27 November 1818
in ’n goewerneursproklamasie die distrik Beaufort geproklameer. Die nuwe distrik is saamgestel uit die
oostelike deel van Tulbagh, die westelike deel van Graaff-Reinet en die strook
land anderkant die Sakrivier, en is onderverdeel in 10 veldkornetskappe. Benewens Beaufort, het dit dele ingesluit van
die latere distrikte Prins Albert, Fraserburg, Willowmore, Aberdeen,
Murraysburg en Victoria-Wes. Dit was dan ook in die praktyk die grense van die
oorspronklike gemeente Beaufort, wat in 1869 die “-Wes” bygekry het ter
onderskeiding van Port Beaufort en Fort Beaufort. In dieselfde proklamasie waarin die stigting
van die distrik Beaufort aangekondig word, is ook kennis gegee van die
aanstelling van ds. Taylor as predikant van dié distrik.
Van skole was destyds so goed as geen sprake nie
en die mense kon maar een of twee keer per jaar die paar honderd kilometer met
die ossewa aflê na die naaste kerk op Graaff-Reinet, Tulbagh, in die Paarl of
Kaapstad. (Worcester sou eers in 1821 afstig.) By die eerste kind in Beaufort
se oudste doopboek (1818–1827) staan “gedoopt 2 Febr. 1819 aan de Paarl”. Eers
vanaf April 1819 is op Beaufort gereeld kinders gedoop. (https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/ng-gemeente-beaufort-wes/)