f.5. Johannes Willem NEL, geb. 13/09/1867

f.5. Johannes Willem (Jan), geb. 13/09/1867, oorl. 23/10/1930, begr. ou oorlog begraafplaas Springbok, x 1890 met Anna Sophia Wilhelmina BERG, geb. 01/11/1889, oorl. 07/07/1950, begr. ou begraafplaas, Keimoes, d.v. Gerrit Stephanus Bergh en Maria Magdalena Petronella van der Merwe.

Johannes Willem was die seun van Abraham Pieter Nel en Christina Glodina Louw.

Voordat die Groot Trek 'n aanvang geneem het, is drie ekspedisies in 1834 uitgestuur om die binnelande te verken.  Die eerste wat onder leiding van J.A. Pretorius was, het na die dorre gebied ten weste van die samevloeiing van die Vaal en Oranjeriviere gegaan.  Die Noordweste is as 'n droë, waterlose, onherbergsame sandwêreld beskryf.  Die gebied van die Buffelsrivier in die weste, noord van die Kareeberge tot aan die Oranjerivier is eers in Desember 1847 by die Kaapkolonie ingelyf.  Toe die Oranje in 1847 as Noordelike grens van die Kaapkolonie verklaar is, het blankes gereeld jaarliks met hulle vee na die streke getrek.  Om die Blankes nie aanstoot te gee nie, het die Siviele kommissaris van Beaufort-Wes in 1855 hierdie gebiede as "trekvelden" verklaar.

Vir langer as 'n eeu is die Noordweste as periodieke trekveld gebruik, voordat die eerste blanke pioniers hulle permanent daar gevestig het.  Daar is geredeneer dat as hulle buitendien agter die reën moet aantrek, dit nie sin maak om self grond koop en belastings en paaiemente daarop te betaal nie.  Die eerste blanke intrekkers het hulle teen die middel van die 19de eeu in die Boesmanland gevestig.  Die eerste pioniers was meestal jong beginners, boere sonder grond en boere wat nie genoeg geld gehad het om plase te koop nie.  Die meeste van die grond wat sedert 1860 in plase opgesny is, is aan hulle verhuur op 'n drie jaar huurpag stelsel en dit is bekend dat hulle baie arm was en swaar tye beleef het.  Die meeste van hierdie blankes het uit die grensdistrikte suid van die Oranje gekom.  Heelwat blankes, sommige as jagters, ander as besigheidsmanne, baie as fortuinsoekers, sommiges ook later om te boer, het die gebied binnegetrek,.

"It (Boesmanland) is a land of whitening bones and ghastly expanses of baked earth littered with small black stones.  In winter Bushmanland is an agonising territory.  In summer the merciless sun penetrates your helmet and the scorched veld burns your shoes.  Dust lingers in your nostrils long after the dust-storm has passed.  Hardly anywhere is there comfort.  Mud huts, mat houses, pepper trees;  their shade is a mockery and there is never a moment's escape from the reality of Bushmanland."  (Green:  To the River's End)

Wat baie van die blankes na die gebied gelok het, was die vrugbare grond langs die Oranje, veral nadat besproeiing moontlik gemaak is deur eerw. Schroder.  Teen daardie tyd het die gebruik by die boere van Namakwaland reeds bestaan om in die somermaande met hul vee na die Boesmanland te trek.  Maar as gevolg van die teenwoordigheid van Koranna-bendes in die rigting van die Skuitdrif het hul voor 1870 nie gewaag om verder as Pofadder te trek nie.  Vroeg in die sewentiger jare het die trekboere sowel as die Namakwalandse boere in die omgewing van die Skuitdrif begin opdaag,  op soek na weiding vir hul veekuddes. 

Die pagstelsel is in 1882 na die einde van die Tweede Koranna oorlog afgeskaf en die plase kon gekoop word.  Die meeste trekboere het grond gekoop.  Die grond langs die Oranje was goedkoop en was dit 'n uitkoms waar plase in ander bewoonde gebiede te klein geword het.  Jan Nel en sy vrou, het aanvanklik op Marchand (waar PR konstruksie vandag is), naby Kakamas gewoon en het daarna na Loeriesfontein toe getrek.


Die trekboere het wild geskiet, sodat hulle kon eet, biltong maak en handel dryf met die vere van wilde volstruise.  Hulle het hul vee gespaar.  Hulle het van pan tot pan getrek.  Hierdie panne was vol water gedurende die reënseisoene.  Baie van hierdie panne is soutpanne soos byvoorbeeld die "Great Commissioner's Pan" wat 11 myl lank is met sy spierwit laag sout wat soos sneeu lyk.  Dit was een van die plekke waar jagters gedurende die migrasie van Springbokke, die honderde bokke wat hulle geskiet het, gebring het sodat biltong daarvan gemaak kon word.  Jan Nel was 'n groot man van 6 voet 4.  Die storie word vertel dat hy met die springbokmigrasie van 1900, 'n springbokram met 'n mes platgegooi het en hom daarna keel afgesny het. Die bokke was blykbaar al moeg.

Frans Schultz, ‘n welgestelde winkelier in die Hantam, en sy vrou Martha Margaretha Gous van Clanwilliam het in die tweede helfte van die 19de eeu Noord-Weswaarts na die Boesmanland getrek, waar die plaas Nous-Wes in die distrik Kenhardt teen die jaar 1877 as pag-grond aan hom toegeken is.  In 1882 het Frans Schultz die plase Bladgrond-Noord en Nous-Wes gekoop.  Die grond het sy eiendom geraak met die Kaart en Transport gedateer 28/12/1883.  Daarmee saam het hy ook die plase Bladgrond en Bo-Narries aangekoop.  

As gevolg van die geweldige droogtes, wat so kenmerkend van die area is, was dit vir die Veeboere noodsaaklik om met hul vee na beter weivelde te trek.  "Die wapad is my woning, die reën is my koning".  Baie van die mense het nie presies geweet wanneer hulle gebore is nie, maar kon sê waar die wa gestaan het, die dag toe dit gebeur het.  In die Nousrivier, 'n sandloop, ongeveer 200 treë van die oorspronklike opstal was drie putse of gorras wat standhoudend was en genoeg water voorsien het.  Verskeie boere het, wanneer hulle met droogtetye met hul vee getrek het, hier aangedoen om hulle vee te laat suip.

Op Nous-Wes het Frans die geskiedkundige “Blou Huis” gebou, so genoem na die blou skynsel van die sement waarmee dit van buite geverf was.  Die Blou huis was ‘n klein huisie met baie dik mure.  Dit het ‘n voorhuis met twee kamers aan elke kant en ‘n waenhuis gehad.  Later was daar nog ‘n kamer aan die agterkant van die huis aangebou.


Die oorspronklike opstal van die plaas Nous-Wes (9500 morg), het tussen die kerkhuisies en die kleurlinge se kerk gestaan.  Sedert 1893 was daar 'n privaat skooltjie, aanvanklik eers in 'n tent deur die onderwyser Kolie Robyn en later in die sitkamer van Frans Schultz se huis (die Blou huis).  Die winkel in een van die vertrekke van die huis, het van die plaas 'n sentrale punt gemaak.  Schultz het die kamer aan 'n Jood verhuur.  Die skool, die winkel en die feit dat dat daar genoeg water vir trekdiere van lidmate was, ook die feit dat kerkdienste aanvanklik in die sitkamer van die Blou huis gehou is, is waarskynlik die rede waarom die kerk op Nous gebou is.


Met Frans se dood in 1897 het sy drie seuns die drie plase soos volg ge-erf:  Frans erf Bladgrond;  Johannes Petrus (Hannes) erf Nous-Wes en Hendrik Jeremias erf Bo-Narries.  Die plase grens aan mekaar.

Links:  Ou begraafplaas op Nous

Toe goud aan die Witwatersrand ontdek word, het dit direk tot die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 gelei. Die nedersetters van die Arbeidskolonies langs die Oranjerivier is wel deur hierdie oorlog geraak.  Baie het by die Boerekommando's aangesluit en ander het weer het na Suidwes-Afrika gevlug.  Die verslag van luitenant W.L. White van die C.S.O. Kaapstad,  O'Kiep.  Namaqualand 7 September 1901. Hy doen verslag dat sonder twyfel, en amper sonder uitsondering, alle persone van Dutch extraction wat tussen Pella en Kakamas woon, Rebelle of Rebelle simpatiseerders was.

Johannes Willem Nel, het in 1904 op Nous aangekom, waar hulle in ‘n tent gewoon het en hy veld van Schultz gehuur het.   Hannes Schultz en sy vrou Cecilia Maria Johanna Louw moes later egter die plaas verkoop, omdat hy geld nodig gehad het om vir 'n hofsaak te betaal wat hy verloor het.  Volgens oorlewering het die hofsaak ontstaan as gevolg van die verhuring van ‘n gedeelte van die huis as winkel aan 'n Jood van Draghoender, Noordwes van Prieska.  Die Jood het die voorhuis met die deurloop na die kombuis en 'n gedeelte van die spens gehuur.  Die slaapkamers het nie buitedeure gehad nie en die huismense moes gedurig deur die winkel beweeg.  Die winkel kon dus ook nooit gesluit word nie.  Dit was geweldig ongerieflik en Schultz het besluit om dit nie meer te verhuur nie.

Toe die Jood met sy handelsware op Nous aankom, het hy gehoor dat Hannes Schultz nie meer kans sien om die vertrek aan hom te verhuur nie.  Die Jood het vir Schultz gevra om die transport te betaal, waarop hy geweier het.  Die Jood het toe 'n siviele saak teen Schultz gemaak en het £600 pond geëis.  Die saak het in 1904 in die Kaap voorgekom.  Schultz het die saak verloor en hy het nie die geld gehad om vir die hofsaak te betaal nie.  Na die hofsaak het Jan Nel die plaas Nous Wes by Schultz gekoop.  Die Nel-gesin het toe in die opstal (die blou huis) gaan woon en die Schultze in die tent.

Die Schultze het nou oos van die Nousrivier gewoon en die Nels aan die Westekant.   *Hierna het Hannes Schultz na die besproeiingskema op Kakamas gegaan, waar hy op Paarden-eiland ’n besproeiingsboer geword het. Hannes het die laaste jaar van sy lewe op Skerpioenpunt (Boegoeberg) by sy seun, Hannes gewoon.  Ek noem dit, want hierdie familie het vir ‘n tweede keer paaie met ons familie gekruis.   Johannes Petrus Louw (Hannes) Schultz, die seun van Hannes Schultz het in 1928 met Maria Margaretha Petronella Laufs, die jonger suster van Hester Cornelia Laufs getrou*

Periodiek is daar steeds winkel gehou in die Blou huis.  Toe Annie 'n kind was, het die Jood, Skolnik, die winkel op Nous gehad.  Daar was ook tye, wat daar nie ‘n winkel op die plaas was nie.  Dan het die Nels met wa en osse Brandvlei toe gery vir voorrade.  Smouse het ook die plaas besoek met wa en osse.  Hulle het kosvoorrade, interressante ware, sis, gare en nog vele meer te koop aangebied.

Uit die huwelik van Johannes Willem (Jan) Nel en Anna Sophia Wilhelmina Berg is 15 kinders gebore waarvan 12 grootgeword het.



Die oudste seun is dood nadat hy deur ‘n slang gepik is.  Naamgewing is streng volgens die voorskrifte nagevolg en daaruit kan ons aflei dat hy Abraham Pieter gedoop sou wees.  Hierna was Gert die oudste seun.

Op Nous is twee van die Nel dogtertjies ook op tragiese wyse dood. Die een klein dogtertjie het op 'n bed, wat op die vloer gemaak was, geslaap in die warm somer.  Terwyl sy gedroom het, het sy haar regtervoet uitgesteek.  Dit het 'n ses voet lange geelslang gehinder, wat haar gepik het.  Sy was binne tien minute dood.

Die ander dogtertjie, wat drie jaar oud was, het een aand voor etenstyd in die voorhuis aan die slaap geraak.  'n Skerpioen het haar gesteek en sy is daarvan dood.  Haar ma het haarself vir baie lank verwyt dat die kind op ‘n leë maag dood is.

In 1905 het Frans Schultz (jnr) en Jan W. Nel saam besluit om elk 'n stukkie grond vir die skool en 'n kerk met die doel dat daar sodanige geboue opgerig sal word beskikbaar te stelDie twee gedeeltes het direk aan mekaar gegrens.  Die grensdraad is toe verwyder sodat die twee driehoekgedeeltes 'n eenheid gevorm het.  In 1905 is 'n enkelkamer skool geboutjie opgerig wat terselfdertyd ook as kerk sou dien.  In 1907 is die kerk gebou.



Hierna was Nous-Wes 'n volwaardige buitekerk.  Hoewel ook elders buitedienste gehou is, het slegs Nous-Wes die status van 'n hulpkerk gehad:  slegs daar is doop en nagmaal bedien, kategeseklasse gehou, belydenis van geloof afgelê.  Sy kerkraadslede het opdragte gekry om tuggevalle te hanteer en die gebou in stand te hou, en die kerksaal uit kerkfondse in stand te hou word.  Daar is 'n tuisgaankamer vir die dominee ingerig, sowal as tuisgaankamers vir lidmate.  Later is die wykskerkraadslede, wanneer hulle dit sou verkies, ook daar in die ampte bevestig.

Toe die Eerste Wêreldoorlog in Augustus 1914 uitbreek, was die Unie van Suid-Afrika skaars vier jaar oud.  Die bitterheid en die vernedering van die Anglo-Boereoorlog was nog steeds vars in die geheue.  Dit is te verstane dat daar 'n rebellie teen die regering uitgebreek het.  Gedurende die anglo Boere-oorlog het die boere hulle plase verloor.  Die rebelle het die oorlog as 'n geveg vir vryheid beskou.  Marits het op daardie stadium besef dat die mense van die Noordweste nie bereid was om saam met die rebelle te veg nie.  Hy het besef dat hulle op 'n verloorstryd was, maar hy was steeds vol moed.  Hulle het na die plaas Schuitdrift, wes van Kakamas, aan die Oranjerivier gery.  Kort na Kemp se aankoms het hy en Maritz besluit om die Unietroepe wat hier in hierdie omgewing was, aan te val.  Schuitdrift was 'n belangrike grenspos tussen Suid-Afrika en Duitswes.

Op Nous was daar in daardie jare 'n winkel, 'n kerk en dit was ook om en by hierdie tyd tot 1915, wat die eerste drie tuisgaankamers op Nous-Wes gebou is, nl. die van Willem Claassens, Jacob Strauss en Bertus van Niekerk.  Die unietroepe het op die groot oopte naby die kerk kampeer.  Teen dagbreek toe hulle aangeval is, moes die unietroepe in alle haas probeer padgee.  Elke man het maar net probeer om so gou as moontlik op sy perd te kom.  Sommiges is weg sonder hul broeke en van die offisiere het net kans gehad om een kamas aan te trek.  Daar was sporadiese gevegte by die veekrale.  Maar ook net in die eerste posisie wat hulle in geneem het, het Maritz se manne 139 krygsgevange geneem.  Maar dit was nie al wat Maritz gebuit het nie, ook al die kersgeskenke en poedings vir die Unietroepe wat al op Nous-Wes gelê en wag het vir  kersfees - moontlik in Nous se kerksaaltjie.

Die nous-lied vertel die storie van die aanval.

Die Nous-lied

As die Duitsers kom
Dan loop jul krom
Hulle wiet skrapnel
Skiet skanse om

Jan Coetzee die Unieman
Het sy broek op Nous laat staan
Hier het hulle moes hard baklei
Party van die manne se broeke het gebly
Koos van der Merwe val van sy perd
En gryp hom toe sommer aan sy stert

Die hemp en die jas en die een kamas
Dit kom die Kakies goed te pas
Breedt se manne het moes laat gly
Want Stadler jaag voor verby

Die koffie was toe ook net klaar
Toe kom ou Stadler ook net daar.
Die bekers staan so vier in 'n ry
Die ketel en die koffie ook daarby

Toe hoor jy niks toe Stadler kom
As mense hoes en perde proes
Die Engelse poeding en die Duitse bier
Daarmee gaan ons krismis vier

Krismis was ons lekker dag
Toe hoor jy net rebelle lag
Vriende hier van Kakamas-wes
Doen julle dan tog ook julle bes
Dit is ons rebel party
Wat ons ook hierdie lied
laat kry.

Die Uniemanne wat gevang is, is in die kerksaal toegesluit.  Hulle is getel toe hulle in die kerk ingesit is, nie toe hulle uitgehaal is nie.  Een van die troepe het agter die ou preekstoel weggekruip en toe alles stil was, het hy uitgekom en na 'n naburige plaas gegaan, waar hy 'n perd geleen het en weggery het.  Ondanks die oorwinning was die rebellie teen 'n einde want Kemp en Marits het voortdurend vasgesit en daar is kort kort krygsraad gehou.

'n Volgende storie wat ontstaan het na aanleiding van vredessamesprekings in Anna Sophia Wilhelmina (Berg) Nel se huis lui as volg.  Komdt Stadler en Genl. Marits het vredesamesprekings met Komdt Breed en Luit.  Vermaas van die Unie verdedigingsmag in A.S.W. Nel se huis gehou.  Op 'n stadium het sy vir Marits gesê om die gevegte te stop, want 'n mens baklei nie teen jou familie en eie mense nie.  Dit dui duidelik daarop dat die bewoners nie ten gunste van die rebellie was nie  Stadler het blykbaar teen die deurkosyn gedruk en gesê dat daar net oor Maritz se dooie liggaam vrede sal kom, wat toe ook gebeur het.



Anna Sophia Wilhelmina (Berg) Nel

Jan Nel het met vee op die plaas Nous geboer.  Deur ordonnansies is daar voorsiening gemaak vir trekpaaie van 150 meter breed, water en weiding vir seisoenstrekboere, maar die trekpaaie kon nie as permanente weidingsgebied gebruik word nie.  Die trekboer moes dus nou trek om by 'n bestemming uit te kom.   Na ‘n reënbui op die trekpad, het Jan Nel siek geraak en is hy op 23 Oktober 1930 op Concordia aan longontsteking dood.  Hy is in die ou oorlog begraafplaas op Springbok begrawe. Van sy kinders het eenkeer klippies wat van Nous af kom (veldspaat en kwartz) op sy graf gaan neersit.

EGGSA
Springbok

EGGSA
Ou begraafplaas Keimoes