h.4. Jacobus Hendrik VAN DER WESTHUIZEN, geb. 25/12/1866, ged. 16/05/1867

h.4.  Jacobus Hendrik, geb. 25/12/1866, ged. 16/05/1867, Victoria-Wes, oorl. 09/06/1911, Kakamas x 19/08/1889, Prieska met Hendrika Christina Wilhelmina (Hennie) LOOTS, geb. 12/10/1872, oorl. 02/07/1939, Kendal Tvl., begr. Kakamas, d.v. Johannes Hendrik Loots en Johanna Jacomina Maritz, Victoria-Wes. (Hennie xx Jan Christoffel HECHTER, geb. 01/09/1853, oorl. 10/05/1958.

Jacobus Hendrik was die seun van Isaak Petrus Jacobus van der Westhuizen en Anna Catharina van der Westhuizen.






Links:  Jacobus Hendrik van der Westhuizen.



Regs: 

Hendrika Christina Wilhelmina Loots.








Die blankes in Suid-Afrika se binneland het tot 1860 (met die ontdekking van diamante) en 1886 (goud), hoofsaaklik die beroep van boer beoefen.  Skielik het Suid-Afrika ‘n industriële land geword.  Die boere moes nou kompeteer met geskoolde mededingers en uitlandse fortuinsoekers.  Hierdie ongelykheid en die afwisselende natuurrampe, soos droogtes, veesiektes en sprinkane het veroorsaak dat baie van die boere nie die mas kon opkom nie.  Uitgeboerde verarmdes het oral hul gronde verloor en as bywoners op plase of as arbeiders op die myne ‘n bestaan probeer maak.  Dit het as die Armblanke-vraagstuk bekend geword. 

Jacobus Hendrik en sy vrou Hennie het aanvanklik met hulle vee as bywoners op die plaas Bloukrans, wat aan die Katrivier geleë is en wat aan Tobias de Klerk behoort het, gewoon.  Hiervandaan het hulle met die ossewa weggetrek en hulle in die omgewing van Prieska en Draghoender (4 km suid van Marydale) gaan vestig.   Saam met sy boerdery het Jacobus Hendrik ook transport gery.




Die Prieska gemeente is op 11 Maart 1878 gestig.  In die beginjare is die eredienste onder bokseile gehou.  Later jare is ’n groot tent opgeslaan as die gemeente deur haar eerste konsulent, Ds. Jordaan, die predikant van Victoria-Wes, besoek is.  Die noordelike grens van die gemeente oorskry op geen punt die Oranjerivier nie, en dit is ondanks die feit dat daar toe reeds etlike plase noord van die Oranje was wat deur lidmate van die gemeente bewoon is. Die rede hiervoor is dat Griekwaland-Wes in 1878 nog ’n Britse Kroonkolonie buite die limiete van die Kaapkolonie was.  Eers na 1880 kon die Kerkraad van Prieska amptelik Griekwaland-Wes betrek, nadat die Kaapse Parlement ’n wetsontwerp aangeneem het dat Griekwaland-Wes by die Kaapkolonie ingelyf is.  Vanaf 1886 aanvaar Prieska ook verantwoordelikheid vir lidmate noord van die Oranje.  Die eerste predikant van die gemeente was ds. A Ahrbeck en die eerste kerkraad het uit 6 lede bestaan.  Die eerste kerkgebou is in 1881-2 opgerig en het £4,500 gekos. Die boumateriaal is in Port Elizabeth aangekoop en moes by Aberdeen stasie afgehaal word.  Ds. Ahrbeck is deur ds. RJ van Niekerk opgevolg.  (http://www.noordkaapland.co.za/prieska/)

Prieska se ou NG kerkgebou, afgeneem omstreeks 1916. Dit is ingewy op 8 September 1883 en was in gebruik tot 1920, toe dit gesloop is om plek te maak vir die nuwe kerk.

Hennie het twee baba dogtertjies kort na hul geboorte aan die dood verloor.  Hulle is op  plase naby Prieska begrawe.  Hulle seun, Izak, het altyd gesê dat hy die graffies wou gaan opmaak, maar het nooit daarby uitgekom nie.

Eerw. Christiaan Wilhelm Heinrich Schroder het in 1872 by Baviaanskranz (Bobbejaankrans) die potensiaal van die Benede-Oranjerivier as besproeiingsgebied besef.  
Ds. Barend P.J. Marchand het vanaf 1886 die Armblanke vraagstuk by die N.G. Kerk sinode bespreek.  Hy het die idee vir die stigting van arbeidskolonies, waarvolgens die verarmde uitgeboerde mense weer op grond gevestig sou word en waar hulle kinders skole sou kon bywoon aangevoer.  Marchand se visie vir arbeidskolonies is simpatiek ontvang en in 1894 is ‘n Kommissie vir Arbeidskolonies saamgestel.  In 1895 is daar besprekings gehou oor waar die mees geskikte plekke op die platteland vir hierdie projek sou wees.  Eerw. Schroder was toevallig in die omgewing en toe hy genader word, het hy spontaan sy vinger op die kaart teen die muur op ‘n rif in die Oranje-rivier, bekend as Neus, gedruk en gesê:  “hier”.  Hy het aangevoer dat die water wat by Neus uitgehaal sal word, die gronde van Neus, Soetap en Kakamas tot by die mond van die Hartebeesrivier sou kon besproei.

As gevolg van die droogte en runderpes van 1897 het die getalle van uitgeboerde armes gegroei.  In dieselfde jaar is daar aanbeveel dat die arbeidskolonie by Kakamas sou wees.  Die hoofdoel van die kolonie sou wees om werk, ‘n goeie verdienste en uitkoms aan verarmde gesinne te bied en om vir hulle ‘n goeie bestaan te verseker en van agteruitgang te red.  Die plase Kakamas, Soetap en Neus is deur die regering gereserveer.  Die werk sou onder die leiding van Eerw. Schroder begin word, met die uitkoop van plase, die verkryging van gereedskap en die koloniste wat self die arbeiders sou wees teen drie sjielings (30c) per dag vir volwassenes, twee sjielings (20c) vir groter seuns en een sjieling (10c) vir kleiner seuns, sodat hulle hul gesinne kon onderhou. 

Eerw Schroder is gevra om te help met die aanlê van die vore.  Hy het in 1898 magtiging gekry om 24 donkies te koop.  Hofmeyr,’n kolonis het in samewerking met Schroder die verlangde getal ploeë aangeskaf.  Indien die vaders van die onderskeie gesinne nie met 3 sjielings per dag kon uitkom nie, sou ‘n voorskot toegestaan word wat aan die oordeel van Schroder gelaat sou word.  Voorts het hulle ‘n onderneming gemaak, om sodra die voor klaar is, ‘n 6-morg erf teen 2 pond of 2 pond 10 per jaar aan hierdie koloniste te verhuur.

Die werk het in Junie 1898 met 24 donkies, ‘n sinkstoor, waarin die koloniste plaaslik lewensmiddele kan aankoop, twee tente vir skool en kerkgebruik, pikke, grawe, koevoete, borries (‘n draagbaar vir die weg en aandra van klippe), klipbore, hamers en dinamiet begin.

Intussen het die nuus van die arbeidskolonie se stigting soos ‘n veldbrand versprei.  Getuigskrifte moes van die predikante bekom word, waarin bevestig is dat die voornemende koloniste karaktervas en met ‘n hoë integriteit was en bowenal oor geen heenkome geskik het nie.  Die koloniste het hul skamele besittings gepak en met hul donkiekarretjies of  met ‘n ysterwielwa, deur osse getrek, na die ‘beloofde land” getrek.  Baie van die pioniers was vir tot twee maande op die trekpad.  Die diere was maer en verswak.  In ‘n paar gevalle het die trekdiere gevrek en is die waens deur die pioniers self getrek.  Omdat dit so warm was het baie mense gedurende die nag getrek.

Die opening van die watervoor was op 03/07/1898.  Baie van die gesinne het onder bome en bosse geslaap as skuiling vir die eerste paar weke.  Daar is ywerig aan die werk gespring.  Van die begin af was daar probleme, maar Schroder se positiewe gesindheid het gebly.  Hy het egter hulp versoek en Japie Lutz is aangestel.  Lutz was ‘n gebore ingenieur.  Die koloniste was besiel.  Die vore is op twee punte begin en dit was ‘n groot oomblik toe die twee punte bymekaar uitkom.  Daar was gejubel en feesgevier. Hierna moes die walle van die Oranjerivier ontbos en gelykgemaak word.

In 1898 was daar reeds 25 gesinne by Neus bymekaar.  Oktober 1898 was daar al oesies van klein tuintjies by Neus.  Daar was op daardie stadium nog geen baksteengeboue nie.  Die lewe vir die koloniste was ‘n tipe kamplewe.  Die koloniste wat nie tente gehad het nie, het riethuise gebou.  Sommige tente is deur die arbeidskoloniekomissie voorsien. Voorrade is op skuld aangekoop by die AKK paktent, waarvan Schroder ook die bestuurder was.  Op betaaldag was die rekeninge betaal.  Hieruit het die latere AKK winkels ontstaan, waar koloniste hul produkte vir ‘n “good for” bewys verhandel het en dan kon daar met die bewys weer die nodige aankope gedoen word.  Daar was ‘n mate van bitterheid oor die stelsel, want die koloniste het op die manier selde kontant voor hande gehad nie.  Hulle kon ook nie koop waar hulle wou, soos byvoorbeeld van rondreisende smouse en handelaars nie.  Negosieware is van die naaste spoorwegstasie De Aar met donkiewaens vervoer en dit het ongeveer drie weke geneem.  Dit was haglike en armoedige omstandighede en die mans het baie hard gewerk.

Toe die koloniste by Soetap se berg gekom het, moes hulle noodgedwonge twee skotskarre vir die aanry van gruis aanskaf.  Die koloniste het besluit om self die skotskarre te trek, aangesien trekdiere te veel van ‘n soekery kon afgee.  In humoristiese gesindheid is die manne byname van trekdiere gegee, soos Blokland, Rondeberg, Donkerveld, Wiegman, Frisveld en Spikkels.  Saans is daar eenvoudige kos geëet en huisgodsdiens gehou.  In die wakis, in doeke toegedraai was die Nederlandse Bybel.

Die kerklike verrigtinge het onder ‘n groot olienhoutboom plaasgevind.  Met die uitleg en konstruksie van die voor was daar ‘n rietsteiergeboutjie wat die koloniste opgerig het, wat as skool in die week en as kerk oor die naweek gedien het.  Die preekstoel was ‘n leë negosiekis, waaragter die leraar gestaan het.  Die burgers moes beginselvas en kerkliewend wees.  Niemand kon ‘n erfhouer word indien hy nie ‘n gemeentelid van die kerk was nie en wanneer daar tekens van die versuim van openbare godsdiens was, is die koloniste voor die kommissie gedaag en gewaarsku en in gevalle van uiterstes is hulle onder sensuur geplaas, of selfs van die kolonie weggewys.

In 1898 is Kakamas se eerste skool geopen in ‘n tent by Neus, die beginpunt van die nedersetting.  Catharine du Plessis, ‘n jong weduwee het vir die sowat 30 kinders skoolgehou.  Die kinders was gretig om skool te gaan, ook Sondae met Sondagskool.  Later is ‘n rietskooltjie wat ruimer was opgerig.  Soos die werkers met die voor gevorder het, moes die kamp al nader aan Kakamas verskuif.  By die derde en vierde stanings word rietsteierskool/kerke opgerig.

Hierna is die voor na die oorkant van die Hartebeesrivier verby die huidige Alheit en Marchand op pad na Augrabies verleng.  Die besproeiingsgebiede langs die Suidoewer was onder meer:  Neus;  Soetap;  Truter;  Alheit;  Marchand en Renosterkop.

Uit:  Laerskool Sentraal:  Ons eer jou gedagtenis

In 1899 is die eerste erwe van ses morge elk uitgegee aan aansoekers wat met die uitkap van die voor behulpsaam was.  Ook het hulle gratis weiveld vir 20 grootvee en 25 kleinvee gekry.  Die aansoekers moes ‘n getuigskrif van die kerkraad bekom.

Met die uitbreek van die Anglo boereoorlog kon sommige van die koloniste nie wag om vir Transvaal te hulp te snel nie.  Die koloniste is gevra om kalm en rustig voor te gaan met hulle werk, maar ten spyte van alle waarkuwings het ‘n kommando van 50 burgers op 13 Maart 1900 by Kmdt. Steenkamp aangesluit.  By Doringnek het hulle gehoor van die oorgawe van Genl. Piet Cronje met meer as 3000 man by Paardeberg en dat Steenkamp deur Christiaan de Wet teruggeroep is.  Die meeste van die manne het wapens neergelê by Kenhardt en het stil-stil huiswaarts gekeer na die ses week lange opstand.

Toe die boeremagte weer die Kaapkolonie binneval, het die mense van Noordwes Kaapland weer in opstand gekom.  Binne ‘n paar dae het 17 mans van Kakamas aangesluit.  Op pad na Kenhardt is daar oorhaastig besluit om ‘n aantal kleuringe by Naroegas aan te durf.   Op Donderdag 23 Mei 1901, het ‘n paar manne wat in ‘n hinderlaag gelei word deur goed gewapende basters, geval.

EGGSA

In die laaste rietsteierskool is Pieter Beyers as eerste opgeleide onderwyser in 1902 aangestel.  Die voertaal in die skool was Engels, waaroor baie boere kwaad was na die Anglo-boereoorlog, soveel so dat sommige ouers nie hulle kinders skooltoe wou stuur nie.  In die distrik het talle skole tot stand gekom o.a. Lutzburg,  Alheit, Schroder, Neus, Marchand en Kakamas- Oos.  Op Kakamas het leerkragte ook opleiding ontvang.  Kwekelingonderwysers is opgelei nadat die kerkskool in 1904 en die pastorie in 1906 gebou is.  Die koloniste het self in hul armoede, met karige gereedskap die bouwerk gedoen.

Gedurende die Anglo Boereoorlog was die vordering aan die vore maar baie stadig, maar sedert April 1903 het dit weer op dreef gekom.  In 1904 is ’n “school-kerk-zaal” met omtrent 600 sitplekke gebou. Die kommissie wat verantwoordelik was vir die oprigting is bygestaan deur “koloniste”” wat teen geringe betaling al die stene en sand voorsien het en die gebou opgerig het. Die “koloniste” van die arbeidskolonie het die nodig sink, hout en planke voorsien. As gevolg van die groot getal kinders is ’n deel van die saal later afgesny en is nog 6 klaskamers aangebou. (http://www.noordkaapland.co.za/kakamas/)


In 1907 is die Benede Oranjerivier gebied met kwaai oorstromings getref.  Malaria en maagkoors het die kolonise erg getref as gevolg van die  besoedelde water.  Dit het tot gevolg gehad dat 23 inwonders van Kakamas gesterf het.  Gedurende 1908 het die volgende vyf wyke aan die Suidvoor wat oor 17 km gestrek het, al bestaan:  Neus, Soetap, Kakamas, Drifeiland en Hartebeesriviermond.  Daarna is met die ontwikkeling van die Noordvoor begin wat baie moeiliker was, omdat twee tonnels gegrawe moes word.  Die voor het oor ‘n afstand van 27 km gestrek.

Die Gemsbok.  Julie 2004

Op 13 Augustus 1909 het die A.K.K. besluit om ‘n pont aan te koop om by Kakamasdrift te gebruik, sowat twee myl laer af in die rivier, vanwaar die brug later gebou is.  Die naam Kakamasdrift bestaan lank voor die stigting van die kolonie.  Vroeër jare was ‘n skuit die enigste vervoermiddel oor die rivier.  Dit was ‘n drif genoem, omdat die beeste daar deur die rivier gejaag was.  Die grootste oorweging vir die aankoop van die pont was die Noordvoor wat toe nog in aanbou was.  Die pont is vroeg in Desember 1909 in gebruik geneem.  Die volgende besproeiingsgebiede lê langs die Noordoewer:  Baviaanskrans;  Lutzburg;  Schroder;  Cillie;  Drifeiland;  Paardeneiland en  Witkopeiland.

Toe erwe beskikbaar raak op Kakamas het die Jacobus Hendrik van der Westhuizen aansoek gedoen vir 'n erf en het  hulle in 1911 'n erf in Schroder gekry.  Jacobus Hendrik , sy vrou en hulle agt kinders het met ossewa na Schroder op Kakamas vertrek.  Aangesien daar toe nog nie ‘n brug was om mee oor die Oranjerivier te gaan nie, het hulle besluit om by die Kakamasdrift met die waens deur die vlak water te trek.

Die oggend van 9 Junie 1911, toe hulle deur die drif moes trek (die kleurling touleier het al reggestaan voor die osse om te begin trek), het Jacobus Hendrik 'n riem sien lê.  Hy het gebuk om dit op te tel en het net daar vooroor geval en gesterf.  Die polisie was gou daar en sy vrou Hennie was daarvan beskuldig dat sy vir hom gif ingegee het.  Sy het baie probleme met die polisie gehad, totdat daar bevind was dat hy aan hartversaking dood is.  Jacobus Hendrik het sy vrou as weduwee agtergelaat met hulle jongste kind, Hendrik, wat minder as ‘n maand oud was.

eGGSA library Gravestones in South Africa Northern Cape : Noordkaap Northern Cape, KAKAMAS, Urban area Northern Cape, KAKAMAS, Soetap cemetery W - Surnames :: Vanne - W WESTHUIZEN Jakobus H., v.d. 1866-1911

In Julie 1911 het Kakamas ’n selfstandige gemeente geword. Ds. Hofmeyr is as eerste leraar bevestig.


Sonder haar man, sonder geld en met agt kinders, moes dit baie moeilik vir Hennie gewees het.  Sy het eenkeer aan haar jongste seun, Hendrik, vertel dat sy in daardie jare “stof” uitgehuil het.  Alle lede van die gesin, wat moontlik kon werk, moes uitspring om te help. Die vier oudste seuns Izak (21jr.), Johannes Hendrik (18 jr.), Kola (16 jr.) en Andries (12 jr.)  het help grawe aan die kanaal, wat water aan die erwe moes voorsien.  Hiervoor was hulle een en ses (15c) per dag betaal.   Die werk is aan die Noordvoor is gedurende 1911 voltooi.   Hierna tot en met 1919 is daar geen uitbreidingswerk aan die vore gedoen nie en is gewasse verbou.  Die dag toe die eerste water deur die Noordvoor gevloei het, was daar groot blydskap in die Van der Westhuizen huishouding.  Die erf op Schroder moes gesleep word en die osse was gereed om die erwe te kan bewerk. 

Wa-tente, tente en rietsteierhuise was die woonplekke van die koloniste en die meeste van die tente was oud, gehawend en verslete.  Ontberings was ‘n lewenswyse.  ‘n Hartbeeshuis se mure was van riet en dwarslatte en met mis en klei gepleister.  Die dak was van riet, strooi of duinegras.  Die benaming harbeeshuisie is afkomstig van die gebruik van ‘n harde biesie, in die volksmond hardbies en later hartbees.  Pleisterklei het bestaan uit ‘n mengsel van vier dele klei en een deel beesmis goed ingesuur en deeglik deurgewerk.  In geval van barsies wat later ontstaan word die mure met ‘n beesmisflodder opgevul die vloere was gesmeer met klei afkomstig van miershope en beesmis.

Klere was min en gelap, soveel so dat sommige van die mense snags sonder klere was, terwyl dit wat hulle gehad het oor ‘n bossie moes droog word, nadat dit gewas is.  Meelsakkies wat van materiaal gemaak is, is met boerseep herhaaldelik gewas, totdat die letters daarop dof geraak het.  Daarvan is gewoonlik onderklere vir die kinders gemaak.  Selfs die sagte toutjie waarmee die sakkies toegestik is, is gebruik vir naaldwerk en die nate is daarmee toegewerk, aangesien daar nie gare was nie.  Om hulle inkomste aan te vul het Hennie hulle bure se wasgoed teen 'n sjieling (10c) per bondel gewas.  Sy het 'n plat klip gehad waarteen sy die wasgoed geslaan het om dit skoon te kry.  Hierna is die wasgoed uitgehang om in die son droog te word.

Elke gesin het hul eie kookskerm gehad en bakoonde wat die vroue self met behulp van die groter kinders gebou het.  Kos was skaars en is in driepootpotte op die vuur buite in die skerm gaargemaak.  Daar was nie altyd brood nie, omdat hulle nie altyd meel en koring gehad het nie en koffie is van die wortels van die Witgatboom gemaak.  

Die witgatboom is wydverspreid in die omgewing aangetref.  Die seuns moes bome met sappige wortels soek.  Die wortels is uitgegrawe, in gerieflike lengtes opgekap en die fyn worteltjies en sand met ‘n knipmes verwyder.  ‘n Goeie wortel het ‘n harde pit met sagte vleis.  Met die platkant van ‘n byl is die veselrige vleis afgekap en vir twee tot drie dae in ‘n sak bedek sodat dit kon sweet.  Sodra die vessel ‘n soet smaak gehad het, was dit gereed om oop in die son te lê om droog te word.  Die houtvesel is die “koffie”.  Dit is soos koffiepitte in ‘n pot gebrand tot ‘n bruinerige kleur, afgekoel en met behulp van ‘n koffiemeul gemaal.

Om die arm boere te help, het die Arbeidskolonie kommissie briefies uitgegee, sodat hulle uit die Kommissie se winkels aan die lewe kon bly.  Die winkel is saans na werk oopgesluit.    Aankope was op skuld gedoen en Saterdae, wanneer die werkers betaal was, is die winkelskuld vereffen.  Die belangrikste aankope was mieliemeel, meel en varkvet.  Laterjare het Hennie se seun Kola as klerk in die Kommissiewinkel op Schroder gewerk en was daarna as bestuurder van Alheit se Kommissiewinkel aangestel.

Kakamas winkel

Ook was daar die Jode-handelaars.  Diegene wat wel ‘n bietjie kontant in die hande kon kry, het stilweg by hulle gekoop.  Die manne soos Frankenfeldt, Levinsohn, Scholnick en ‘n ander paar was welbekend in die omgewing met hul eie toegeruste winkel en ‘n eie verkoopstegniek.  Ander koloniste het onderhandel om op skuld te koop en daar was ‘n wederwydse vertrouenswaardigheid tussen die koloniste en die handelaars.

Dan was daar ook smouse wat van plaas tot plaas met hul muilwaentjies gery het.  Die smouse is soos gaste op die plase ontvang.  Aan hullle is ‘n staning gegee en hulle ware is op ‘n bokseil uitgestal.  Van die smouse het ‘n ekstra waentjie gehad om die velle van slaggoed in te vervoer.  Die velle het vir die betaling van die negosiegoed gesorg.  Sommiges het te voet gesmous van plaas tot plaas, met hul bondeltjie smousgoed op die rug, vandaar die benaming  bondeldraers.  Die bondel kon egter nie te groot wees nie, daarom was die smousgoed meerendeels ligte en klein noodsaaklikhede, soos naaldwerkbenodigdhede,  medisyne en kruie, mooimaakgoed, snuisterye en juweliersware.

In daardie jare was daar nie ‘n dokter, hospitale, aptekers of verpleegsters nie.  Die naaste dokter was tien ure heen en weer te perd vanaf Kakamas tot op Upington en nog verder tot op Kenhardt.   Die hoë koste en die ontberinge waaraan pasiente blootgestel is,  het verhoed dat mense die dokter gaan sien het.  Tuisversorging was baie goed en die vroue het van huis tot huis hul ervarings met mekaar bespreek en gedagtes  gewissel.  Die bloubottel of kasterolie is vir baie kwale gebruik.  Die huisapteek met sy skuifdekseltjie en Lennon handelsmerk met sy handleiding het as medikasie gedien. “Fever pain tablets” het deel uitgemaak van die huisapteek en verder is daar met behulp van boererate gedokter.  Hennie was in daardie jare ‘n geregistreerde vroetvrou in Kakamas.  Sy het ook baie mense met siektes gehelp en met boererate gedokter.  So het sy ‘n verdere inkomste gemaak om haar kinders aan die lewe te hou.  Haar seun, Izak, was eers ‘n kwekeling onderwyser op die plase, Prieskaspoort en Kraanvoëlpan.  Hy het verder gaan studeer op Graaff-Reinet.  Uit haar inkomste van wasgoed was en haar dienste as vroedvrou, het sy gehelp om vir Izak se onderwysstudies te betaal.

Op 09/01/1913 het  Ds. P.J.B Shaw en sy vrou na Kakamas gegaan .  Ds. Shaw en sy eggenote het al die lief en leed van die gemeente in hul groeijare meegemaak.  Die trep karretjie wat deur een perd genaamd Frank getrek was, was hulle vervoermiddel waarmee gemeentewerk gedoen en besoek gebring was.

Johanna Jacomina is, die enigste van der Westhuizen dogter van hierdie gesin, is in 1910 met Frederick Edward Hugh Dickinson, 'n rondgaande onderwyser van Ierse afkoms, wat gedurende die Anglo-Boereoorlog na Suid-Afrika gekom het, getroud.  Sy het 'n enigste kind,  Howard gehad, wat op 3 Februarie 1912 gebore is.  Johanna Jacomina is op 22 jarige ouderdom, op 19 Januarie 1914 in Schroder, Kakamas, oorlede.  Sy het saam met haar baba masels gekry, en sy is daaraan oorlede.  Howard was hierna deur sy ouma Hennie saam met Hennie se seun Hendrik, aan haar bors grootgemaak.

Die eerste wêreldoorlog het op Dinsdag 4 Augustus 1914 uitgebreek.  Meer as 20 lande en bykans ‘n driekwart van die wêreldbevolking was daarby betrokke.  Suid Afrika het saam met Engeland tot die oorlog teen Duitsland toegetree.  Daar was ook besluit om Duits Suidwes-Afrika van die Duitsers af te neem.  Oor die algemeen was die burgers baie teen die deelname aan die oorlog gekant. Genl. De Wet was oortuig daarvan dat die Unieregering teen volkswil handel en het wapens opgeneem om te protesteer.  Dit het uitgeloop uit op ‘n rebellie, waarop gehoop is om die Vryheid van die Transvalers en Vrystaters te herwin.  Die AKK het kennis geneem van die opstand van Luitenant Kolonel Manie Marits en van die feit dat hy Kakamas in besit geneem het.  Maritz het die kant van die Duitsers gekies en het teen die Unieregering in opstand gekom. Hennie se derde oudste kind, Johannes Hendrik, het gesterf in 'n oefening gedurende die Rebellie van 1914.  

Hennie hertrou in ongeveer 1914 met Jan Christoffel Hechter, geb. 01/09/1853, oorl.10 Mei 1958 (of 48).
   
Jan Christoffel Hechter
Hendrika Christina Wilhelmina (geb.Loots) van der Westhuizen

Oupa Hechter en ouma Hennie met haar kleinkinders

Uit hierdie huwelik is daar ‘n dogter gebore, dus ‘n halfsuster van die Van der Westhuizen kinders.  Sy was Helena Antoinet (Lenie) Hechter, geb. 01/05/1915, oorl. 15/05/1986 , trou met Karel Johannes Christiaan (Basie) BURGER, geb.  25/10/1913, oorl.  13/04/1981.  As jong meisie het Lenie haar opleiding in huishoudkunde op George gekry.  Haar man, Basie, was ‘n spoorwegwerker op Witbank.
                          
 























Sy het ‘n moeilike lewe gehad.  Hulle het darem die voordeel gehad dat sy en haar kinders verniet kon treinry.  Die kinders se klere is aangegee van die oudste tot die jongste.  Sy het dikwels pakke klere aan Andries se vrou, Hetta, gestuur vir haar kinders.  Hetta het dan die klere verwerk, sodat dit nie presies gelyk het soos dit wat sy ontvang het nie.  Hetta het op daardie stadium nog net vir Gerrie en Hennie gehad.  Lenie en Basie het 4 seuns en 2 dogters gehad:  Joppie BURGER;  Jan BURGER;  Andries BURGER;  Karel BURGER;  Drieka BURGER en Toekie BURGER.


Lenie Hechter (foto:  links);  Andries se vrou Hetta saam met Lenie Hechter (foto:  regs)

Die seuns Piet, Fred en Hendrik het op Kakamas skoolgegaan.  Piet het sy opleiding in H.S. Kakamas en Graaff-Reinet gehad.  Hy was 'n St. 8. onderwyser.  Fred het langs die Boegoebergskema geboer.   Hendrik het op Graaff- Reinet as onderwyser gaan studeer.

Hennie was 'n sterk vrou met 'n vurige humeur.  Van die kleinkinders het onthou hoe sy een Kersfees die Kersfeestafel met alles wat daarop was, omgekeer het, omdat sy kwaad was.    Sy is op 02/07/1939 in Kendal, Transvaal oorlede en is op Kakamas begrawe.  Haar grafskrif  “Wat sy kon doen, het sy gedoen” was baie gepas.

Hennie se begrafnis

eGGSA library Gravestones in South Africa Northern Cape : Noordkaap Northern Cape, KAKAMAS, Urban area Northern Cape, KAKAMAS, Soetap cemetery W - Surnames :: Vanne - W WESTHUIZEN Jacobus Hendrik, van der 1866-1911 & Hendrika Wilhelmina nee LOOTS 1872-1939