j.4. Jan Christoffel NEL, geb. 24/01/1952

j.4.  Jan Christoffel, geb. 24/01/1952, Nelspruit x 31/12/1977 met Hester Maria JANSE VAN RENSBURG, geb. 01/04/1954, d.v. Frederik Rudolph Janse van Rensburg en Hester Johanna Maria Buys.

Jan Christoffel was die seun van Daniël Pieter Nel en Hester Maria Heyneke.
Jan Nel het sy laer- en hoërskoolopleiding op Nelspruit voltooi en nadat hy aan die einde van 1970 matrikuleer, doen hy sy militêre opleiding aan die Heidelbergse Leargymnasium. Daarna studeer hy aan die Universiteit van Pretoria en voltooi die BSc­ graad in Landbou-ekonomie aan die einde van 1974.  Hierna boer hy saam met sy vader op die plaas Uitkyk, en later ook op bykomende huurgrond, met beeste en tabak. Hy koop in 1981 die plaas Eureka, gelee tussen Barberton en Kaapmuiden, langs die Kaaprivier, van Johan Badenhorst, 'n suiker- en groenteboer. Met die aankoop van Eureka is Eskom uitbreidings gedoen, 'n dam in een van die spruite gebou en Badenhorst se suikerriet van 40 ha tot 80 ha vergroot. Jan het die eerste oonddroogtabak in die gebied geplant en het verder met groente geboer.  In 1984 boer hy met piesangs en was vir twee jaar aangewys as die beste piesangprodusent vir die gebied. In 1984 koop hy 'n gedeelte van die plaas Perl waar hy verder met tabak en groente boer.  In 1985 koop hy die plaas Bon Accord van Johnny Roux en om die riskante faktor to versprei begin hy met sitrusverbouing. Aangesien water die grootste beperkende faktor in die vallei is, is 'n dam op Bon Accord gebou. Op daardie stadium was die uitvoermark vir sitrus belowend en is navels, Valencia en pomelo's aangeplant.  In 1987 is 'n verdere gedeelte van die plaas Perl aangekoop en suikerriet, asook piesangs, gevestig. In 1993 is nog 'n plaas, Italian Farm, langs die plaas Bon Accord, aangekoop vir bees- en wildboerdery. Beeste is egter uitfaseer en op wild gekonsentreer. Daar is met 'n buffel teëlprogram begin en sowat agt spesies wild, voorheen in die gebied aanwesig, hervestig.  Daar is gedurende 2001 'n tweede dam op Bon Accord gebou, vir watervoorsiening aan verdere sitrusaanplantings. Jan het in 1977 by die Nelspruit Kommando aangesluit en is gedurende 1981 na die Barberton Kommando oorgeplaas en het Bevelvoerder van die Eenheid geword.  Hy is 'n suksesvolle boer en beskryf sy suksesse toe aan geleenthede wat hy gesien en benut het. Hy gee ook krediet aan sy bestuurders, dat dit 'n spanpoging is en nie noodwendig 'n persoonlike sukses nie.  (Borman, Hans:  Familie nel van Nelspruit, 1982)